|

NUWE AFRIFORUM-SENTRUM WIL MUNISIPALITEITE HELP REGRUK

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum se Sentrum vir Plaaslike Regering is vandag tydens die bekendmaking van die Munisipale Oudit vir die Noordwes van stapel gestuur. Dié sentrum is begin in reaksie op die algemene verval en agteruitgang van munisipale dienste in veral die platteland.

“Daar is minder as 10% van munisipaliteite in die land wat skoon oudits gekry het,” sê dr. Eugene Brink, bestuurder van dié sentrum. “Die meeste van die skoon oudits is slegs in een provinsie, naamlik die Wes-Kaap, aangeteken.

“In Noordwes is die meeste munisipaliteite in ’n benarde posisie. Verbrokkelende paaie vertel die storie van die verval. Korrupsie is oral te sien en dit het daartoe gelei dat munisipaliteite kwalik hul mandaat vir dienslewering kan vervul,” meen Brink.

Volgens Brink is die gehalte van drinkwater in Noordwes in die algemeen redelik, maar daar is dikwels onderbrekings met toevoer. Hy wys ook op die hoë werkloosheidskoers wat ’n groot probleem is en tot onrus kan lei.

AfriForum stel jaarliks sy blou-en-groen-druppelverslag vry wat die gehalte van drinkwater en riolering beordeel. ’n Vullisterreinoudit word ook jaarliks gedoen. Hierdie verslae en oudit asook munisipaliteite se toegang tot sekere dienste soos lopende water en elektrisiteit word gebruik om ’n punt uit 10 vir elke munisipaliteit toe te ken. In Noordwes het die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, wat Potchefstroom en Ventersdorp insluit, met 4 uit 10 die beste gevaar.

“Die Sentrum vir Plaaslike Regering is op die been gebring om die rol van ’n geloofwaardige waghond te vertolk en oplossings vir munisipaleprobleme te vind. Die doel van AfriForum se oudits is juis om munisipaliteite te beoordeel aangesien die regering byna 10 jaar laas soortgelyke verslae uitgereik het,” sê Brink.

Volgens Johan Kruger, AfriForum se hoof van Gemeenskapsontwikkeling, is die meeste munisipaliteite in die “hoësorgeenheid”.

“Ons soek vir oplossings binne die wet wat prakties uitvoerbaar en volhoubaar is. Wat die inwoners van Koster vermag het toe hulle self dienste in die dorp oorgeneem het, dien as ’n baken van hoop vir ander.”

Te oordeel aan die punte wat munisipaliteite in Noordwes in AfriForum se oudit gekry het, blyk Kruger se beskrywing akkuraat te wees. Buiten JB Marks het net Moses Kotane, Naledi en Rustenburg se munisipaliteite 3 of meer punte uit 10 gekry. Van die vrotste munisipaliteite is Mahikeng en Tswaing wat elk net 1 uit 10 gekry het. ’n Groot bron van kommer is die afname in die aantal huishoudings in die onderskeie munisipaliteite wat tussen 2011 en 2016 minder toegang tot lopende water het.

Luidens die verslag is daar genoegsame bewyse dat Noordwes in ’n munisipalekrisis gedompel is. Die skade wat aangerig is, sal nog lank ’n negatiewe invloed op inwoners hê.

Lees die volledige verslag hier.

Bevindings uit AfriForum se munisipale oudit vir Noordwes

Plaaslike MunisipaliteitAantal mensePunt uit 10 vir dienslewering% Toegang tot lopende water% Jeug werkloosheid
City of Matlosana(Klerksdorp)420 0001.548,7%43.1%
JB Marks (Potchefstroom en Ventersdorp)243 527446%
Moses Kotana(Mogwase)243 6483.59%
Naledi(Stella)68 8033.539%35,5%
Rustenburg626 522328,5%34,7%
Mahikeng314 394123%47,1%
Kgetlengrivier(Koster)60 0001.527,7%26%
Madibeng(Brits)536 111216%38,2%
Tswaing(Delareyville en Sannieshof)129 05219,1%40%
Ramotshere Moiloa(Zeerust)157 690217%
Maquassi Hills(Wolmaransstad)82 012228,6%42,6%
Ditsobotla(Coligny en Lichtenburg)181 865231,8%37%
Lekwa-Teemane(Christiana)56 0251.530%40%

Soortgelyke plasings