|

Alberton-tak help brandramp in Alrode voorkom

AfriForum se buurtwag in Alberton het die afgelope naweek (1 September) ’n brand by ’n eiendom in Alrode help bedwing voordat dit na die omliggende industriële geboue kon versprei. Die brand het gedreig om ander geboue te verswelg, maar die buurtwag het dit in samewerking met die eienaar van die eiendom en privaat veiligheidsmaatskappye dit vinnig onder beheer gebring.

Donovan Scorgie, buurtwagleier vir AfriForum se Alberton-tak, sê die buurtwag het om 19:15 ’n boodskap ontvang oor die brand en dadelik op die noodroep gereageer. Met die buurtwag se aankoms op die toneel was die eienaar van die eiendom besig om die brand met behulp van ’n tuinslang te blus. Die AfriForum-buurtwag het egter sy mobiele brandweerwa ingespan om die brand eindelik te bedwing. Die einste toerusting is later gebruik om al die warm kole om die eiendom af te koel sodat die brand nie weer opvlam nie.

“Hierdie voorval is ’n voorbeeld van hoe belangrik dit is dat gemeenskappe paraat bly en burgerlike organisasies se noodnommers byderhand hou. Deur verskeie veiligheidstrukture saam te roep om kragte saam te snoer het ons ’n moontlike ramp voorkom,” sê Scorgie.

Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, sê die Alberton-buurtwag streef deurlopend daarna om bewustheid te skep oor die veiligheid van die gemeenskap en die omgewing. “Die buurtwag wil help verseker dat Alberton se inwoners hulself mobiliseer om aktief betrokke te raak by die veiligheid van die gemeenskap. ’n Gemeenskap wat bymekaarkom om gemeenskaplike uitdagings die hoof te bied is ’n gemeenskap wat voorbereid is vir sukses,” sê hy.

Die Alberton-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om by hierdie buurtwag betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan alberton.bw@afriforumtak.co.za of besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings