|

Almal het reg tot die erkenning van hul kultuur en identiteit

“Afrikaans behoort nie net aan een groep mense nie. Dit is ʼn taal met ʼn oorsprong wat oor drie kontinente strek. Daarom moet erkenning aan alle mense gegee word vir wie hul Afrikaanse en/of ander identiteit belangrik is.

Só meen Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Sy het vandeesweek by die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom deelgeneem aan ’n gesprek oor of die regering en universiteitsowerhede Afrikaners onregverdiglik teiken.

Bailey, dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van kultuur by die ATKV, en dr. Piet Croucamp, politieke ontleder, het aan dié gesprek by die ATKV-Boeke-Oase, deelgeneem.

Bailey het gewys op die gevaar van veralgemenings, die ontkenning van Suid-Afrikaanse statistieke en sogenaamde bemagtigingsstelsels.

Sy het aan Forum Nuus gesê dat Croucamp tydens die bespreking ʼn groot aanval teen Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging, geloods het en die ou argument gedryf het dat dié beweging vrees aan Afrikaners verkoop en nie-bestaande probleme skep.

Titus het in reaksie daarop egter erkenning aan Solidariteit gegee en daarop gewys dat niemand anders werknemers van korrektiewe dienste bygestaan het tydens hul regstellende aksie saak nie. Solidariteit se optrede het volgens Titus nie oor Croucamp se beweerde “vals persepsies en vals vrees” gegaan nie, maar eerder oor mense wat weens regstellende aksie hul werk verloor.

“Ons verkoop nie vrees nie, maar eerder die idee van ‘selfdoen.’ Die sake wat ons aanpak is nie persepsies en valse vrese nie, maar konkrete gebeure wat mense se regte en lewens beïnvloed,” meen Bailey.

In teenstelling met Croucamp, wat argumenteer dat baie Afrikaanse mense gemoderniseer het en hulself nie meer aan ʼn identiteit soos “Afrikaner” koppel nie, het Titus eerder gefokus op die belangrikheid van identiteit. Hy het gesê sommige Afrikaanssprekende bruin mense wil terugkeer na ’n bruin identiteit en ʼn geskiedenis wat volgens hom doelbewus uitgewis is.

Bailey het afgesluit en gesê alle mense het die reg tot die erkenning van hul kultuur en identiteit.

Soortgelyke plasings