|

Anglo-Boereoorlog-monument op Zeerust al drie jaar deur AfriForum in stand gehou

Die AfriForum-tak in Zeerust het vandeesmaand voortgegaan met die maandelikse verfraaiing van die terrein waarop die Burger-monument gebou is. Dié monument is ter nagedagtenis aan burgers van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) wat in 1900 en 1901 tydens drie veldslae gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) omgekom het, opgerig.

Die monument is op die hoek van Hendrik Potgieter- en Forsmanstraat geleë en word byna maandeliks vir die afgelope drie jaar deur hierdie AfriForum-tak in stand gehou. Die tak het vandeesmaand die terrein se gras gesny en altesaam ses vullissakke met blare en takke gevul. Aan die einde van dié skoonmaakaksie het die tak ook ’n vrag tuinvullis weggery.

“Die gereelde instandhouding van die Burger-monument is van uiterse belang vir ons gemeenskap. Hierdie monument is deel van ons erfenis, ons geskiedenis en kultuur, en deur dit te onderhou, eer ons nie net die verlede nie, maar verseker ons dat toekomstige geslagte ook hiér van hul voorgeslagte kan leer. Dit is ’n blywende herinnering van ons geskiedenis, daarom is ons trots om hierdie monument te onderhou,” sê Pierre van der Walt, ondervoorsitter van AfriForum se Zeerust-tak.

Teen die tyd wat AfriForum die verantwoordelikheid vir die instandhouding van die monument oorgeneem het, was die terrein in ’n kommerwekkende toestand. Dit was gehawend, vuil en plante het die terrein oorgroei. “Ons getroue instandhouding van hierdie monument stuur ’n sterk boodskap dat ons verantwoordelikheid neem vir ons eie omgewing. Ons sal self ons dorpe onderhou as die verantwoordelike partye dit nie doen nie,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum se Zeerust-tak wil ’n groter verskil in die gemeenskap maak en moedig inwoners aan om betrokke te raak. Sluit vandag nog by hierdie AfriForum-tak aan deur Van der Walt te skakel by 082 569 8564

“Laat ons saamwerk om ’n beter gemeenskap te bou!” sluit Van der Walt af.

Soortgelyke plasings