|

AfriForum doen beroep op publiek om data oor Vaalrivier se siek visse in te samel

AfriForum neem met kommer kennis van berigte wat ontvang is van siek en beseerde visse wat in die Vaalrivier, en veral in die Deneysville-omgewing, aangeteken is. Vaal Weekblad se berig hieroor vroeër vandag, spruit uit ’n Facebook-plasing van ’n besorgde lid van die publiek.

Volgens André Pietersen, lid van die VERREF Hengelklub en ’n besorgde lid van die publiek wat die datainsamelingsproses oor dié verskynsel koördineer, is verskeie rolspelers reeds by ’n ondersoek rakende die verhoogde voorkoms van siek en beseerde visse in die Vaalrivier betrokke. Verskeie kenners, insluitend dr. Mariska Laubscher, ’n mikrobioloog verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, en dr. Gugulethu Moyo, hoofstaatsveearts van die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling, sowel as die omgewingsdrukgroep Save the Vaal Environment (SAVE) vorm deel van die ondersoekspan.

AfriForum doen ’n beroep op die publiek om deel te neem aan dié span se datainsamelingsproses. Hengelaars moet op die uitkyk wees vir visse wat ongewone simptome toon, soos bloed wat deur die skubbe of vinne syfer. Hengelaars wat visse met dergelike simptome in die Vaalrivierstelsel teëkom, word versoek om foto’s van die siek vis, tesame met koördinate en/of ’n akkurate beskrywing van die plek waar die vis gevang is, aan Pietersen te stuur. Hierdie data sal baie waardevol wees in hul ondersoek om vas te stel wat die oorsaak van die visse se ongesteldheid is.

“Dit is algemene kennis dat die hele Vaalrivierstelsel onder geweldige druk verkeer as gevolg van besoedeling deur industrieë, mynbou en onverwerkte riool wat vanweë wanfunksionele munisipale rioolstelsels in die rivier instroom. Oortreders kom weg daarmee, omdat die regering nie die vermoë het om omgewingswetgewing toe te pas en oortreders te vervolg nie. Wat ook al die presiese oorsaak van die visse se siekte is, kan daar met gerustheid aangeneem word dat hierdie siekte ’n simptoom is van die ongesonde en ongebalanseerde ekosisteem wat lank reeds kenmerkend is van die Vaalrivier,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.

“Sodra die ondersoek verdere lig werp op die moontlike oorsaak, sal AfriForum seker maak dat die betrokke partye verantwoordelik gehou word. Die Vaalrivier verskaf drinkwater aan miljoene mense in Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap. Dit is daarom noodsaaklik dat hierdie waterhulpbron teen besoedeling beskerm moet word,” sluit De Vaal af. 

Alle inligting rakende siek of beseerde visse moet gestuur word aan André Pietersen by 079 971 0728.

(Foto: Wikimedia Commons, Ossewa, 27 September 2008)

Soortgelyke plasings