|

Beurtkrag se tande een vir een in die Noord-Kaap getrek met sonkragligte

Terwyl die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank vandag aangekondig het dat daar vanjaar na raming nog 200 dae van beurtkrag op Suid-Afrika wag, is AfriForum se takke in die Noord-Kaap ’n spreekwoordelike lig in dié duistere beurtkragtonnel. Kritieke instellings soos polisiekantore, skole en kerke word dikwels die hardste getref deur die donkerte wat tydens beurtkrag oor die land neerdaal. Daarom het AfriForum se Noord-Kaapse takke in April beurtkrag se tande een vir een getrek met die skenking van sonkragligte aan die Kamieskroon-polisiestasie, die Merwehof-ouetehuis, die Kamieskroon NG Kerk, die Kameel-polisiestasie op Upington en Hoërskool Kalahari en Laerskool Seodin op Kuruman.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, maak dié skenkings ’n reuseverskil in die lewenskwaliteit én veiligheid van gemeentes, leerders en gemeenskapslede. “Om in sak en as te sit, is nie ’n oplossing nie. Daarom is die bydrae wat gemeenskapslede deur AfriForum-takke maak ’n kragtige model, want in plaas daarvan om te wag vir oplossings van die regering se kant af, spring gemeenskappe nou self in om noodsaaklike en werkbare hulp aan die gemeenskap te bied,” verduidelik Strauss. “Waar daar ’n AfriForum-tak is, sien ons die verskil raak. Lede is toegewyd en sal voortgaan om deur selfdoenaksies die verskil selfs verder uit te brei.”

Die Kamieskroon NG Kerk en die plaaslike polisiestasie hier het elk een sonkraglig ontvang, terwyl twee ligte ook aan die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) se Merwehof-ouetehuis op dié dorp geskenk is. Hoërskool Kalahari en Laerskool Seodin op Kuruman het elk twee sonkragligte ontvang, en AfriForum se Upington-tak het ook twee sonkragligte aan die Kameel-polisiestasie geskenk.

Benewens die skenking van sonkragligte het AfriForum se Kamieskroon-tak ook die Merwehof-ouetehuis, waar 18 bejaarde inwoners tans tuisgaan, besoek en ’n welkome skenking van groente en vrugte hier afgelewer. Aartappels, wortels, uie, kool, beet, pampoen en lemoene is aan die tehuis geskenk en sal in samewerking met die plaaslike NG Kerk selfs verder uitgedeel word aan behoeftiges in die Kamieskroon-gemeenskap.

Soortgelyke plasings