|

Bevelvoerder verwoes erfenis glo sover hy gaan

Die bevelvoerder van die polisie se opleidingskollege in Hammanskraal, noord van Pretoria, het glo nie net van die gedenkteken by dié kollege ontslae geraak nie.
Hy het na bewering ook vroeër toe hy by die Berede en honde-eenheid van die polisie in Pretoria-Wes aan die stuur van sake was, opdrag gegee dat die ou polisie-embleem summier verwyder word. Dit is die embleem wat vroeër die landswapen in die polisiester gehad het. Die landwapen is toe met aalwyne vervang.

Brig. J.N. Magane maak glo geen geheim daarvan nie dat enige tasbare geskiedkundige gedenktekens hom dwars in die krop steek en geen plek in die huidige Suid-Afrika verdien nie.
Afgetrede en huidige polisielede wat met Magane saamgewerk het, het gesê die vernietiging van die gedenkteken by Hammanskraal is nie die eerste omstrede voorval waarby hy betrokke is nie. “Daar was al dikwels ook vrae oor hoe Magane so vinnig van kaptein tot brigadier gevorder het,” het ’n ingeligte bron gesê.
Magane het glo binne agt jaar van kaptein tot brigadier gevorder, terwyl dit tot 20 jaar kan neem om byvoorbeeld van konstabel tot brigadier te vorder.
Volgens nog ’n bron was daar ook al bewerings van ander oortredings teen Magane soos die ongemagtigde gebruik van ’n polisievoertuig.
Die gedenkteken by Hammanskraal wat verwoes is, is opgerig ter nagedagtenis aan 13 swart polisiebeamptes wat op 29 Januarie 1988 in ’n busongeluk op pad na Mosselbaai toe dood is.
Hulle was George Pitseng, Meshack Gavisa, Freddy Seanego, Bongani Gumemde, Modumelwong Matsepe, Daniel Phiri, M, Sukasi, Ben Ngwapa, Jacob Zondi, Sipho Mbokazi, Hosea Sebothoma, Maisha Mogashoa en Mandlakhe Myende.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die vernietiging van die granietkruis, soortgelyk aan die Dias-kruis, lyk na ’n moedswillige vernietigingsdaad. “Die is onwettige optrede aangesien die verwydering van enige monument onderworpe is aan erfenisbewaringswetgewing.”
Sy het gesê dit stuur ’n uiters negatiewe boodskap van disrespek teenoor alle polisielede uit wanneer hulle aan diens gesterf het, maar volgens ’n bevelvoerder nie meer herdenking verdien nie.
Bailey het ’n dringende versoek aan Musa Zondi, polisiewoordvoerder, gestuur waarin ’n verduideliking geëis word.
AfriForum wil weet wie opdrag vir die vernietiging van die gedenkteken gegee het, of die nodige regsprosesse gevolg is, waarom dit nodig was om die gedenkteken te verwyder en of stappe gedoen gaan word om dit te herstel.
Zondi het nie op die navrae gereageer nie.
Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), het gesê die vernietiging van die gedenkteken kom neer op “skokkende arrogansie” en dui op die optrede van iemand wat dink hy kan doen wat hy wil omdat hy in beheer is.
Volgens Forum Nuus se inligting is daar ook niks van die bewyse van die historiese geskiedenis by die hondeskool buite Pretoria oor nie. Die vertoonkas wat eens ’n bewys van dié eenheid se ryk geskiedenis was, is gestroop van alle medaljes en trofees, terwyl die ou polisie-embleem ook verwyder is.

Soortgelyke plasings