|

Brand by Kays Karavaanpark laat 40 mense dakloos

Enkele maande nadat inwoners van Kays Karavaanpark in die Strand moes ontruim weens erge vloede, het nog ’n tragiese ramp hulle getref toe ’n brand hierdie week by die karavaanpark uitgebreek het.

Dit is nog onduidelik hoe die brand ontstaan het wat 13 huise verwoes en 40 mense dakloos gelaat het. Kays Karavaanpark bied lae inkomste behuising aan inwoners.

AfriForum en Solidariteit Helpende Hand, wat dié karavaanpark se inwoners in die verlede gehelp het, het weer eens ingespring om hulp te verleen. R50 000 is uit AfriForum se noodfonds bewillig om aan dié inwoners persoonlike benodigdhede asook kos, opblaasmatrasse, beddegoed en kussings te koop. Die 40 mense word tydelik by die Solidariteit Helpende Hand Ons Plek in die Strand gehuisves.

Volgens KC Gericke, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Strand-tak, was die organisasie se Strand Patrol-buurtwag eerste op die toneel en het hulle die brandweer ontbied. Die brand was op daardie stadium heeltemal buite beheer en sou nie met die buurtwaglede se brandblussers geblus kon word nie.

Die buurtwag het toegangsbeheer op die perseel toegepas terwyl die brandweer die brand geblus het. Hulle het ook die paaie vir die verkeersdepartement beheer, asook water en oogdruppels aan die brandweerlede voorsien.

Die buurtwaglede het verder gehelp om honde en katte na veiligheid te dra en die ander wooneenhede deurgegaan en inwoners voorkomend gevra om hul huise te verlaat.

Volgens Gericke kan mense kos, kombuistoestelle soos ketels, mikrogolfoonde en tweeplaatstowe skenk. Klere vir volwassenes en kinders word ook benodig.

“Die inwoners wat deur die brand geraak word, gaan letterlik van vooraf moet begin. Hulle gaan waarskynlik nog vir ’n paar weke afhanklik wees van kosskenkings. Daar is vyf kinders wat nou nuwe skoolbenodigdhede, skryfbehoeftes en skoolklere benodig,” sê Gericke.

Skenkings kan by AfriForum se Strand-tak (153 Sarel Cilliersstraat, Stand,) of by Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek in die Strand afgelaai word.

Skenkings kan ook aan AfriForum se noodfonds gemaak word:

Banknaam: First National Bank
Rekeninghouer: AfriForum NPC
Takkode: 261550
Rekeningnommer: 62349898398
SWIFT-kode: FIRNZAJJ
Verwysing: Noodfonds

Of alternatiewelik op die Givengain-platform inbetaal word.

Soortgelyke plasings