| |

Zastron-tak dien strafregtelike klagte teen munisipale bestuurder van Mohokare Plaaslike Munisipaliteit in

AfriForum se Zastron-tak het op 14 Augustus twee strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder van die Mohokare Plaaslike Munisipaliteit, M.J Kanwendo, by die Zastron-polisiestasie ingedien. Die eerste klag handel oor die rioolsuiweringswerke wat buite werking is en die tweede klag oor die onwettige vullisterrein.

Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die rioolsuiweringswerke glad nie in ’n werkende toestand is nie en dat rou riool na die informele nedersetting stroom. Dié riool vloei na kleiner kanale en eindig in die Montagudam wat drinkwater aan die nedersetting voorsien. Dit het ook aan die lig gekom dat die vullisterrein ongelisensieer is en dat daar geen instandhouding gedoen word nie.

Hierdie kwessies is ’n groot bron van kommer aangesien dit die omliggende plaasgemeenskap direk beïnvloed. Die besmette water word vir besproeiing gebruik wat ’n gesondheidsrisiko vir die gewasse en vee inhou. Riool bevat ’n groot aantal skadelike bakterieë en virusse, insluitend kolibakterieë, salmonella, cholera en die rotavirus. Hierdie patogene organismes kan gastro-intestinale infeksies veroorsaak wat simptome soos diarree, braking, koors en maagkrampe kan insluit. In ernstige gevalle kan hierdie infeksies tot dehidrasie en lewensgevaar lei.

Die vullisterrein hou ’n verdere gesondheidsrisiko in omdat vee voedsel in vullishope vind wat hulle in kontak bring met besoedelde stowwe en potensieel skadelike chemikalieë wat in vullis voorkom. Diere kan vergiftig word indien hulle dit insluk of daarmee in aanraking kom. Dit kan ook tot nierskade, lewerskade, neurologiese probleme en selfs die dood lei.

“Ons doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om hierdie saak te ondersoek en eis dat Kanwendo dadelik verantwoordelikheid aanvaar en die probleem oplos. Indien daar nie gehoor gegee word aan ons eise nie sal die tak se regspan die nodige stappe neem om te verseker dat die probleem opgelos word,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Die publiek word aangemoedig om by AfriForum se Zastron-tak betrokke te raak. Klik hier en maak ’n verskil.

Soortgelyke plasings