|

AfriForum appelleer teen goedkeuring vir sloping van Saldanha se Vingerhoedhuisie

AfriForum het pas skriftelike appèl aangeteken teen Heritage Western Cape se goedkeuring vir die sloping van ’n gebou in Saldanha bekend as die Vingerhoedhuisie. Die goedkeuring vir die algehele sloping van hierdie gebou is uitgereik nadat ’n ontwikkelaar die aansoek by dié erfenisinstelling ingedien het.

Lede van AfriForum is teen die sloping van dié geliefde landmerk in Saldanha gekant en het ook kommer uitgespreek oor die beplande aanwending van die grond waarop dit geleë is. Na bewering beoog die ontwikkelaar om woonstelle daar op te rig, maar die aard van infrastruktuur in die omgewing mag beteken dat dit nie uitvoerbare planne sal wees nie. Gesprekke is reeds deur inwoners met die munisipaliteit gevoer om hulle kommer hieroor te lug.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, berus AfriForum se appèl daarop dat:

  • Soos die naam aandui, die Vingerhoedhuisie al sedert die aanvanklike oprigting daarvan in 1917/1918 ’n unieke en geliefde kenmerk van die dorpsbeeld van Saldanha is;
  • Daar geen aanduiding van strukturele veranderinge aan die interieur of buitekant van die gebou is nie;
  • Saldanha nie oor ’n groot verskeidenheid historiese geboue beskik nie, veral nie wat so ver terug as 1917 dateer nie, en dat dit daarom nie in die belang van die kultuurhistoriese erfenis van Saldanha is om dit te sloop nie;
  • As dit behoorlik bewaar word, dit ’n waardevolle toevoeging tot die toerisme-aantreklikhede van die streek sal wees;
  • Daar ’n aanbod is dat hierdie gebou vir opvoedkundige doeleindes benut kan word – planne waarby die omgewing se jeug sal baat, sonder dat die gebou se integriteit of oorsprong daardeur benadeel hoef te word;
  • Dit verbind is aan van die kleurvolste inwoners van hierdie streek, insluitend James en Marie Walker, Marion en Alexander (Sandy) Duncan, die Tolkens, Sadies, Appies en Binnemans;
  • Dit deur die jare vir baie uiteenlopende besigheidsdoeleindes aangewend is, wisselend van ’n melkery tot ’n haarkappery, en later selfs ’n geskenkwinkel. Dit is dus ’n staande monument vir die entrepreneurskap van die inwoners van hierdie streek en die ekonomiese ontwikkeling van Saldanha deur die jare.

AfriForum hoop dat die unieke gebou tog gered kan word. “Suid-Afrika het ’n al slegter reputasie as dit by die bewaring van die land se argitektoniese erfenis kom. Nie alleen moet geboue wat verteenwoordigend van ’n bepaalde boustyl is, bewaar word nie, maar ook eiesoortige strukture soos die Vingerhoedhuisie wat spreek van die kreatiwiteit van streke se inwoners en hul ryk geskiedenis,” meen Bailey.

’n Artikel oor die Vingerhoedhuisie verskyn hier.

Soortgelyke plasings