|

AfriForum stel bewaringsbevel op om verdere Sharemax-bedrog te voorkom

AfriForum en adv. Gerrie Nel het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat die privaatvervolgingseenheid ’n bewaringsbevel opgestel het om te verhoed dat die Nova-eiendomsgroep (vir alle praktiese doeleindes ’n voortsetting van Sharemax) die maatskappy se eiendomme teen pryse ver onder die markwaarde daarvan verkoop – ten koste van aandeelhouers. AfriForum het hierdie bevel aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur en geëis dat hulle dit in ’n hof bring.

Die batebeslagleggingseenheid van die NVG kan hierdie eiendomme ingevolge ’n hofbevel in bewaring neem, maar die vervolgingsgesag het nog geen só ’n aansoek gebring nie.

In die aansoek wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir die NVG opgestel het, voer die burgerregteorganisasie aan dat die eiendomme ter sprake bekom is met die opbrengs van onwettige aktiwiteite, insluitend geldwassery en bedrog soos vervat in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, Wetno. 121 van 1998, asook die Wet op Banke, Wetno. 94 van 1990. Aangesien die eiendom instrumenteel was tot die pleeg van die bogemelde misdade teen die aandeelhouers, en aangesien die maatskappy Nova sedert 2012 in beheer is daarvan (maar dié maatskappy gestig is met die opbrengs van onwettige deposito’s wat deur Sharemax van die publiek aanvaar is) het AfriForum versoek dat die NVG hierdie eiendom in bewaring neem.

Volgens adv. Nel het sy eenheid se ondersoek ook bewyse opgelewer dat die raadslede van Nova vir hulself buitensporige salarisse betaal, en ook eers hul eie salarisse betaal voordat hulle skuldbriefhouers uitbetaal. “Dit blyk ook dat Nova besig is om van geboue ontslae te raak in ’n poging om likwidasie te vermy – ten spyte van die verdere reuse- finansiële verliese wat dit vir aandeelhouers kan inhou. Die Nova-raad se optrede is gewetenloos en daarom was ons genoodsaak om hierdie aansoek op te stel en vir die NVG te stuur om te verhoed dat aandeelhouers verdere verliese ly.”

“Baie van die beleggers in hierdie skema is bejaarde mense met karige middele wat gehoop het om ’n inkomste te genereer deur hul neseiers te belê. Nova/Sharemax se raad het ten koste van hierdie mense, ’n weelderige bestaan gevoer en as burgerregteorganisasie kan AfriForum kan nie toelaat dat hulle nié daarvoor verantwoordbaar gehou word nie. Hierdie skema kan gelykgestel word met die bedryf van ’n misdaadsindikaat en daarom moet hulle optrede onmiddellik gestop word,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Soortgelyke plasings