|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek weer eens op die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) gereageer nadat James Ndlebe, hoofdirekteur van beplanning van die Departement van Basiese Onderwys, ’n voorlegging aan die Gekose Komitee oor Onderwys en Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur gemaak het. Die burgerregteorganisasie is van mening dat dié wet gehalte-onderrig gaan kelder en gemeenskappe in die land van mekaar gaan vervreem.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Macadamia Suid-Afrika (SAMAC) vandeesweek na die Nelspruit-polisiestasie vergesel waar korrupsie-, bedrog- en diefstalsake teen ’n speurder van die Valke en ’n privaat ondersoeker geopen is. Dié klagtes spruit uit ’n beweerde onwettige en bedrieglike geheime operasie wat SAMAC minstens R4 miljoen gekos het.

Die burgerregteorganisasie het ook beswaar aangeteken teen die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie se geïntegreerde hulpbronplan. Dié plan, wat Gwede Mantashe, minister van dié departement, in Januarie bekendgemaak het, is volgens AfriForum onvolledig, ver verwyder van die werklikheid en poog om die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se wanprestasie te verdoesel.

Organisasies, waaronder AfriForum, Saai en die Mike Campbell-stigting, het ’n memorandum aan die sekretariaat van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gestuur waarin ’n beroep gedoen word om die SAOG se streekshof, die SAOG-tribunaal, weer op die been te bring.

AfriForum se tak in Middelburg het nóg sonkragveiligheidsligte opgerig sodat dele van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Middelburg Tehuis, Behuising & Oewersig Aftreeoord se Rivierpark-woonstelle behoorlik belig is. Opknappings aan die aftreeoord se omheining sal ook binnekort aandag geniet.

14 buurtwagbestuurders van die Eden-veiligheidsnetwerk, oftewel steunkring, wat in Januarie vanjaar in die Suid-Kaap op die been gebring is, het gespesialiseerde opleiding ontvang om die samewerking wat tussen buurtwagte oor ’n gebied van nagenoeg 12 000 km2 gedoen moet word, te verfyn én te optimaliseer.

Nóg ’n veiligheidsteunkring is ook vandeesweek in die Oos-Kaap gevestig. Dié steunkring sal beter samewerking tussen AfriForum se buurt- en plaaswagte in Jeffreysbaai, Gqeberha en Uitenhage bewerkstellig.

Danksy sowat 20 patrolleerders van AfriForum se Walker Drive-buurtwag en die plaaslike brandweer is ongeveer 3 hektaar se veldbrande in die Sherwood-omgewing in Gqeberha geblus voordat dit ernstige skade aan infrastruktuur kon aanrig.

49 vrywilligers van AfriForum se Apiesrivier-buurtwag het tydens hulle massapatrollie 588 km afgelê. Dié tak het ook as deel van sy veiligheidstrategie ’n LPR-kamera geïnstalleer om veiligheid te bevorder.

In Viljoenskroon het die AfriForum-tak 55 sakke vullis verwyder toe die ingang vanaf Kroonstad skoongemaak is. Die padsirkels se gras is gesny, bome gesnoei, padgeute is skoongemaak, daar is netjies gemaak waar die vetplante op die verkeerseiland gegroei het en ’n stormwaterdrein is skoongemaak.

Die Oudtshoorn-tak het as deel van die #OnsDorp-projek vullis opgetel, onkruid uitgeskoffel, parke opgeknap en bome gesnoei wat motoriste se sig belemmer het. Vier vragte vullis en onkruid is tydens hierdie projek verwyder.

Die Delmas-tak het ingespring en gehelp om herstelwerk aan die polisiestasie se hoofhek te doen wat vir etlike maande buite werking was.

Die AfriForum-tak in Bethal en nabye boere het sedert 14 Maart 125 000 liter water aan inwoners beskikbaar gestel weens gereelde watertekorte.

Soortgelyke plasings