|

Boosdoeners in Bronkhorstspruit staan geen kans teen dié buurtwag nie

AfriForum het die afgelope naweek die berugte paaie van Bronkhorstspruit, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsrolspelers, met patrollies help beveilig. Hiertydens is verskeie onwettige immigrante in hegtenis geneem en ander motoriste vir dronkbestuur vasgetrek.

Altesaam 115 polisie- en ander veiligheidsrolspelers het Vrydag (16 Augustus) van 19:00 tot 01:30 Saterdag die strate van dié gebied gepatrolleer. Agt lede van AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag het in vier voertuie die polisie met die patrollering bygestaan. Aan die einde van die patrollie is sewe individue in hegtenis geneem vir openbare dronkenskap en drie vir dronkbestuur. Nog ’n inhegtenisneming is gemaak vir die besit van ’n nagemaakte vuurwapen. Sewe onwettige immigrante is ook in hegtenis geneem. Die buurtwaglede het verder die polisie gehelp om 125 individue en 47 voertuie te deursoek vir onwettige wapens en dwelms.

“AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag word daagliks met uiteenlopende soorte misdade gekonfronteer, maar die tak bly daartoe verbind om te verseker dat hierdie gebied vir al sy inwoners veilig is. Dié tak en sy buurtwag sal voortgaan om patrollies soos hierdie te doen en hegte bande met wetstoepassers te smee,” sê Liam Lewis, buurtwagleier van AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag.

Benewens die beveiliging van Bronkhorstspruit, het hierdie AfriForum-tak ook Saterdag (17 Augustus) die veld agter Goudpark en Diamantpark Aftreeoord skoongemaak. Dries Fella, Mariaan le Roux, Charles Hall en Magda Lewis, almal lede van hierdie tak, het groot hoeveelhede grond van die padoppervlak verwyder en sakke tuinvullis wat daar gestort is verwyder.

“AfriForum sal aanhou om gemeenskappe by te staan waar munisipaliteite misluk en ’n daadwerklike verskil in die betrokke area te maak,”  sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Soortgelyke plasings