|

AfriForum beteken hofstukke aan Rand Water oor waterbesnoeiings

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n dringende aansoek teen Rand Water gebring ná dié waterverskaffer se besluit om watertoevoer na verskeie munisipaliteite te verminder. In sy hofaansoek versoek AfriForum ’n interdik wat Rand Water verplig om volle watervoorsiening na die betrokke munisipaliteite te herstel.

Dit volg nadat AfriForum se regspan verlede week ’n aanmaning aan Rand Water gestuur het waarin vereis word dat watervoorsiening ten volle herstel word na die volgende munisipaliteite: Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en Lesedi Plaaslike Munisipaliteit in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit in Gauteng; Rand West Plaaslike Munisipaliteit en Merafong City Plaaslike Munisipaliteit in die Wes Rand-distriksmunisipaliteit in Gauteng; Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit in die Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit in die Vrystaat; en Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit  in Mpumalanga.

Toegang tot skoon water is ’n basiese mensereg; dit is noodsaaklik vir gesondheid, sanitasie en algehele lewenskwaliteit. Die besluit om watervoorsiening te verminder – al is dit dalk gedryf deur operasionele of finansiële beperkings – het verrykende implikasies vir die geaffekteerde gemeenskappe, veral vir die mees kwesbares. Rand Water het ’n onnodige las op die reeds kwesbare gemeenskappe geplaas, wat bestaande sosio-ekonomiese uitdagings vererger.

“AfriForum veroordeel Rand Water se optrede om watervoorsiening te sny ten sterkste. Terwyl ons die uitdagings erken wat waterverskaffers in die gesig staar, glo ons dat sulke besluite met sorgvuldige oorweging geneem moet word vir die welstand van die gemeenskappe wat hulle dien. Ons glo dat samewerking tussen waterverskaffers, regeringsowerhede en burgerlike samelewingsorganisasies noodsaaklik is om volhoubare oplossings vir uitdagings met watervoorsiening te vind,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

“Ter wille van aanspreeklikheid en deursigtigheid, het AfriForum regstappe teen Rand Water begin om sodoende die bekommernisse wat deur hierdie aangeleentheid veroorsaak word, die hoof te bied. AfriForum bly toegewyd in sy missie om die regte en belange van ons gemeenskappe te beskerm en sal voortgaan om soortgelyke kwessies te moniteer en te beveg, indien nodig,” sluit Coetzee af.

Soortgelyke plasings