|

Centurion-buurtwag vuurwapens se baas ná opleiding

Lede van AfriForum se Centurion-buurtwag sal die mas kan opkom as dié gebied ooit in gevaar is, aangesien nege buurtwaglede verdere opleiding in vuurwapenhantering ontvang het. Dit is die sesde  opleidingsessie wat die Centurion-tak vir buurtwaglede aanbied. Dit is belangrik vir AfriForum se buurtwaglede om gereeld hul vaardighede op te skerp sodat hulle met die nodige kennis toegerus is om krisissituasies te hanteer.

Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, sê die opleiding het uit ’n teoretiese sessie en verskeie praktiese oefeninge bestaan wat buurtwaglede help met die veilige hantering van ’n vuurwapen. Individuele analises is ook gedoen om die buurtwaglede se tekortkominge en sterkpunte met die hantering van ’n vuurwapen te identifiseer en daarop voort te bou.

Die opleiding is deur twee Centurion-buurtwaglede aangebied wat by die Professional Firearms Trainers Council (PFTC) geakkrediteer is en as skietbaanbeamptes opgelei is.

“AfriForum is daartoe verbind om sy buurtwaglede die beste moontlike opleiding te gee om hulle voor te berei vir enige situasie waarin hulle hulself tydens patrollies kan bevind,” sê Ungerer. “Dié vuurwapenopleiding is maar een van vele soorte opleidingsessies wat AfriForum vir sy buurtwaglede aanbied.”   

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak se buurtwag betrokke deur ’n epos aan centurion@afriforumtak.co.za te stuur.  

Soortgelyke plasings