|

Brandkrane in dié dorpe vaar nie te sleg

Die meeste brandkrane in Delmas, Ermelo en Piet Retief is goed sigbaar, hoewel bitter min van dié krane nie duidelik as brandkrane gemerk is nie. Heelwat krane het wel roesskade en benodig ’n laag verf.

Hierdie inligting het aan die lig gekom nadat AfriForum-takke in Delmas, Ermelo en Piet Retief in Junie oudits van 59 brandkrane in dié onderskeie dorpe voltooi het om die toestand van die krane te bepaal. Hierdie oudit vorm deel van ’n groter aksie wat AfriForum landswyd van stapel gestuur het.

Daar is op verskeie plekke in hierdie dorpe foto’s van brandkrane geneem en inspeksies gedoen. Gevolglik is bevestig dat die bogrondse brandkrane in Delmas en Ermelo in ’n werkende toestand is omdat die uitlaat skoon is.

Dit is egter ’n bekommernis dat daar wel brandkrane is wat in ’n slegte toestand is. Sowat 10% van die brandkrane in Delmas, Ermelo en Piet Retief lek water of het sigbare skade – sommige krane se handvatsels word vermis. Die ondergrondse brandkrane in Piet Retief se kleppe is vuil. Daar is baie grond in die gate wat veroorsaak dat die kleppe onbruikbaar is en eers skoongemaak moet word.

Daar is ook in baie gevalle nie duidelike aanwysings waar die krane geleë is nie.

AfriForum sal verder met die betrokke brandweerdienste skakel en hulp aanbied om die krane te herstel.

“Hierdie aksie is belangrik vir die veiligheid van die gemeenskap. In geval van nood, moet vinnige en maklike toegang tot die kleppe ten alle tye moontlik wees,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Soortgelyke plasings