|

AfriForum se Gauteng-buurtwagte neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum se buurtwagte in Gauteng het op 18 September 2020 in hul onderskeie gebiede aan dié burgerregteorganisasie se nasionale patrollie deelgeneem om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsinstansies aangepak.

Altesaam 656 AfriForum-lede en 963 ander patrolleerders het 33 642 km met 776 voertuie afgelê. Die patrollie het omstreeks 16:00 begin en tot 06:00 voortgeduur. Die buurtwagte het hulp met 47 voorvalle verleen, insluitend ’n selfmoordpoging, die vastrek van roekelose en dronk bestuurders en verskeie padblokkades waartydens persone vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping en AfriForum se Gauteng-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereelde patrollies organiseer om misdaad in samewerking met die SAPD en veiligheidsinstansies hok te slaan,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die noordstreek.

“AfriForum se buurtwagte fokus nie net op sigbaarheidsaksies nie, maar verseker ook dat ander aksies plaasvind om gemeenskappe se weerbaarheid te verbeter, en ook verhoudings met ander rolspelers te vestig,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke en help om jóú dorp veilig te maak: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

 

Soortgelyke plasings