|

Burgerlike samelewing takel slaggate omdat die staat misluk

Die burgerregteorganisasie AfriForum meen dat die burgerlike samelewing noodgedwonge ’n groter rol in die opknapping van padinfrastruktuur speel omdat die politieke wil ontbreek om dit te doen.

Daar is by die sewende konferensie van die Suid-Afrikaanse Padfederasie vermeld dat die getal slaggate op die land se paaie nou op 25 miljoen staan. Dit het met 10 miljoen oor die laaste vyf jaar toegeneem.

Volgens Corné Cronje, bestuurder van gemeenskapstrukture by AfriForum, maak dié organisasie se takke landwyd weekliks slaggate reg. “Ons het in 2014 begin om slaggate te herstel en het sedertdien sowat 2 000 ton teer gebruik teen ’n koste van R5,5 miljoen. As dit nie gebeur nie, sal die slaggate veral in die plattelandse gebiede nog groter en meer word want dit is telkens die enigste werk wat aan paaie gedoen word. In Potchefstroom en Bethal maak ons intensief slaggate reg en ons Heidelberg-tak het al 2 500 slaggate sover in 2022 herstel.

“Die wortel hiervan is die munisipaliteite se gebrek aan instandhouding. Indien hulle behoorlike onderhoudsplanne het en die paaie ordentlik seël, sal dit die lewensduur van die paaie verleng. Ongelukkig is die infrastruktuur so verswak dat paaie in baie plekke oorgebou moet word.”

Hy waarsku egter teen die aanstel van tenderpreneurs en die korrupsie wat daarmee gepaard gaan. “Gekwalifiseerde mense moet gebruik word om paaie van goeie gehalte te bou wat langer sal hou, maar dan moet onderhoud nie nagelaat word nie.”

Cronje moedig gemeenskappe aan om by hul plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak, veral met die herstel van slaggate. “Die wil en ook die hulpbronne bestaan eenvoudig nie by die staat om hierdie probleem te takel nie. Dis hoekom die probleem sulke skrikwekkende afmetings aangeneem het. Ons sal self moet moue oprol en ’n verskil maak.”

Soortgelyke plasings