|

Limpopo se vullisterreine ’n groot bron tot kommer

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs een uit 15 vullisterreine wat in Limpopo geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, is die meeste vullisterreine in hierdie provinsie in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan onwettige persone wat op die vullisterreine woon, vuurmaak en slaap. Daar word gereeld diere-afval op van die terreine gestort en daar is geen sorteringsnetwerke nie.”

Jansen van Vuuren sê die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. “Die fokus gaan daarop wees om in samewerking met die munisipaliteite aandag aan die vullisterreine in die provinsie te gee en druk toe te pas om die tereine weer reg te ruk. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.”

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, en haar span vergader. Uit die vergaderings was dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie bestaan tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede. Dit is ’n bewys daarvan dat samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake nie met mekaar kommunikeer nie.

Soortgelyke plasings