|

Centurion-buurtwag hou skoolkinders veilig tydens laataand revue-kompetisie

AfriForum se buurtwag in Centurion het die afgelope paar weke verseker dat leerders wat aan die Kaleidoscope revue-kompetisie deelneem, veilig tussen hul skole en die Staatsteater in Pretoria gependel word. Lede van dié buurtwag het dit op hulself geneem om busse te begelei wat kinders laat in die aand by die teater oplaai. Sedert die begin van die maand het 30 buurtwaglede op agt afsonderlike geleenthede dié busse beveilig. In hierdie tyd het die buurtwaglede altesaam 900 km afgelê om te verseker dat die busse vol kinders en onderwysers ongedeerd hul eindbestemming bereik.

Hoewel die buurtwag slegs Laerskool Bakenkop en Laerskool Rooihuiskraal se busse begelei het, het die lede in die proses ook oor meer as 60 ander skole se kinders gewaak. Benewens die begeleidings het die buurtwaglede ook gehelp om verkeer te reguleer en gesorg dat leerders op hul busse kom en veilig vanaf die Staatsteater in die middestad vertrek.

“Die Centurion-tak se buurtwaglede het aand na aand seker gemaak dat al dié skole se leerders veilig is. Dis net een van die vele operasies wat die Centurion-buurtwaglede aanpak om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Raak vandag nog by hierdie AfriForum-tak betrokke deur www.wordlid.co.za te besoek of ’n epos aan centurion@afriforumtak.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings