|

AfriForum en Batlharo Boo Tokwana-Ba-Ga-Masibi smee bande

AfriForum en die Batlharo Boo Tokwana-Ba-Ga-Masibi Tradisionele Gemeenskap van Disaneng, wes van Mahikeng in die Noordwes-provinsie, het bande gesmee tydens ’n vergadering op 3 April 2023 tussen verteenwoordigers van AfriForum en die Tradisionele Raad van die Batlharo Boo Tokwana-Ba-Ga-Masibi. Daar is ooreengekom dat daar spesifiek saamgewerk sal word op landbou-ontwikkeling, gemeenskapselfstandigheid en die versekering van die eienaarskap van die grond van dié tradisionele gemeenskap.

“In Tswana het ons ’n gesegde: Modiri ga se moji. Die betekenis van die gesegde is dat die een wat die werk doen nie daarvoor beloon word nie. Die daarstelling van hierdie wedersydse erkenning-en-samewerkingsooreenkoms is nie vir onsself nie, maar vir ons kinders en die geslagte wat ná hulle sal kom. Ons werklikheid is dat verskillende kultuurgemeenskappe in dieselfde land bly; dit gee vir ons die geleentheid om by mekaar te leer – dit vereis ook van ons om in harmonie saam te leef om ’n voorspoedige toekoms vir ons kinders te verseker,” sê Kgosi Mogakolodi Masibi, Kgosi (opperhoof) van die Batlharo Boo Tokwana-Ba-Ga-Masibi Tradisionele Gemeenskap.

“Vir ’n oplossing om te werk moet dit op die werklikheid gebaseer wees – dit moet op die waarheid gebou word. Ons werklikheid is dat daar baie verskillende kultuurgemeenskappe is wat die suidpunt van Afrika hul tuiste noem. Ons toekomsplanne moet hierdie werklikheid in ag neem; dit is waarom AfriForum ’n netwerk van kultuurgemeenskappe op die grondslag van wedersydse erkenning en respek bou. Ons glo dat die versterking van gemeenskapsfederalisme, wat van onder af op die grondslag van kulturele identiteit gebou word, ’n sleutelrol het om te speel om die probleme wat deur die falende staat veroorsaak word op te los,” sê Barend Uys, Hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Tradisionele leierskap is ’n belangrike gemeenskapsinstelling van tradisionele gemeenskappe en het ’n noodsaaklike rol om te speel om taal, kultuur en erfenis te bewaar. Dit is weer belangrik vir die behoud en ontwikkeling van kulturele identiteit en die volhoubare voortbestaan van selfstandige gemeenskappe.

Soortgelyke plasings