|

Centurion-tak help gemeenskap om sonkragstraatligte te installeer

Simonsvleisingel in Centurion het nou weer 13 werkende straatligte danksy samewerking tussen AfriForum se Centurion-tak en die gemeenskap. Dié nuwe straatligte werk met sonkrag om te verseker dat die straat saans verlig is al is daar kragonderbrekings.

Die betrokke gemeenskap het die ligte aangekoop, maar het nie oor die vermoëns beskik om dit te installeer nie. Gemeenskapslede het die AfriForum-tak gekontak om ’n handjie by te sit om die straatligte te installeer.

Die tak het deur middel van ’n memorandum van verstandhouding met die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit die nodige dokumentasie in plek gekry dat hulle wel die ligte mag installeer.

“Hierdie is nóg ’n onlangse suksesvolle aksie wat ons kon aanpak danksy ons memorandum van verstandhouding met die Tshwane-metro. Dit is weereens ’n bewys dat goed georganiseerde gemeenskappe wat die nodige prosesse in plek het kan help om verval in ons gemeenskappe te stuit,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die groter Pretoria-Suid. 

Ungerer doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by hul naaste AfriForum-tak by www.wordlid.co.za of stuur ’n e-pos na centurion@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings