|

AfriForum verwelkom Nersa se besluit om slegs 3,49% verhoging toe te laat

AfriForum verwelkom die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se besluit om Eskom se elektrisiteitsverhoging vir die 2022/2023-boekjaar met slegs 3,49% te verhoog. Dit nadat Eskom vir ʼn 20,5%-verhoging gevra het. Die resultaat van vorige terugwerkende aansuiweringsaansoek (RCA)-besluite beteken dat die totale verhoging 9,61% vir die volgende boekjaar gaan wees.

AfriForum het hierdie elektrisiteitsverhoging van die staanspoor af teengestaan deur skriftelike kommentaar by Nersa in te dien. Die organisasie het ook aan die openbare deelname proses deelgeneem deur ’n voorlegging te lewer wat aanvoer dat die kostes van Eskom se beweerde korrupte aktiwiteite en wanadministrasie by die berekening van die verhoging in die komende jaar se elektrisiteitstarief, uitgesluit moet word.

“Nersa moet alles binne hulle mag doen om die verbruiker te beskerm. Hierdie is ’n eerste stap in die regte rigting, maar ons het tydens ons voorlegging genoem dat Nersa nog verder moet gaan om omsigtigheidsbepalings te doen in Eskom se werksaamhede. Ons glo dat die tarief wesenlik afwaarts aangepas moet word wanneer sulke stappe gedoen gaan word,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir plaaslikeregeringsake.

Mostert meen verder dat daar ’n moontlikheid bestaan dat Eskom hierdie besluit van Nersa sal laat hersien. “Eskom het in die verlede gelitigeer teen elke tariefbesluit wat Nersa gemaak het. Ons hoop dat Nersa hierdie standpunt van hulle in die hof sal kan verdedig.”

AfriForum sal voorts die redes vir hierdie besluit bestudeer om die regte van verbruikers in die energiesektor te beskerm.

Soortgelyke plasings