|

De Goede Hoop-koshuis: Aansoeke nou oop

AfriForum se De Goede Hoop-koshuis, wat volgende jaar sy deure by die Universiteit van Pretoria (UP) oopmaak, se aansoeke is nou amptelik oop.

Dié koshuis het ten doel om ʼn inklusiewe tuiste vir enige Afrikaanssprekende Tukkie-student te wees en kan beskryf word as ʼn kultuurinstelling wat verblyf bied vir alle studente wat gemaklik binne die Afrikaanse gemeenskap voel.

De Goede Hoop sal deur AfriForum gefinansier word en op ’n Christelike grondslag geskoei wees. Dit sal onafhanklik van UP se ander koshuise funksioneer.

Hoewel De Goede Hoop ʼn privaatkoshuis is, word daar beoog dat die koshuis steeds aan tradisionele kampusaktiwiteite soos Jool, Sêr en rugby sal kan deelneem. Die burgerregte-organisasie beoog om sy privaatkoshuiskonsep vir Afrikaanssprekendes na ander kampusse uit te brei indien dit by UP suksesvol is.

De Goede Hoop bied ook op 30 Julie ʼn besoekersdag aan vir alle Afrikaanse studente wat belangstel om dié koshuis hul tuiste tydens hul universiteitsloopbaan te maak. Besoekers sal tydens die geleentheid kans kry om ʼn inligtingsessie by te woon, lede van die huiskomitee (HK) te ontmoet en op ’n begeleide toer deur die koshuis te gaan.

Marthinus Jacobs, AfriForum Jeug se Tuks-takvoorsitter, meen die koshuis is ʼn briljante idee wat nie op ʼn beter tydstip kon kom nie.

“In ʼn tyd waar universiteitskoshuise hul tradisies, kultuur en karakter verloor, skep De Goede Hoop ʼn alternatief vir studente. Dit is ʼn plek waar Afrikaanse Christen-studente hul taal en kultuur vry en veilig kan uitleef en met medestudente kan deel. Elke student het die reg tot ʼn plek waar hy of sy voel: ‘ek behoort’.”

Die koshuis is op die hoek van Jorrisen- en Verdoornstrate in Walkerspruit (1,8 km van die UP se Hatfield-kampus) geleë. Dit sal sowat 300 mans en dames kan huisves.

Verseker jou koshuisplek, volg hierdie skakel om jou aansoekvorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan admin@degoedehoop.co.za http://degoedehoop.co.za/wp-content/uploads/…/07/Aansoek.pdf

Vir verdere navrae kontak Janli Sonntag by 012-644-3458 of stuur ʼn epos aan admin@degoedehoop.co.za

Soortgelyke plasings