|

Debatspanne seëvier in sentraalstreeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink-kompetisie

Dat Vrystaters vaardige debatteerders is, is opnuut bewys tydens die sentraalstreeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskole wat op 25 Augustus 2022 by die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein plaasgevind het. In 2020 en 2021 moes die kompetisie noodgedwonge virtueel plaasvind, maar met meer deelnemers as ooit, was dit duidelik dat die leerders vanjaar honger vir debat is en soos altyd flink op hulle voete kan dink.

Junior en senior spanne van C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, Eunice High School, Grey Kollege Sekondêr, Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Jim Fouché, Hoërskool Reitz, Hoërskool Sand du Plessis, Hoërskool Sentraal, Hoërskool Voortrekker en Hoërskool Witteberg het aan hierdie kompetisie deelgeneem.

Die tradisie dat spitsvondige spanname gebruik word, is voortgesit met oorspronklike pogings soos Veni Vidi Vici (Witteberg), Kekkelbekkies (Jim Fouché), Kopspinners (Oranje), Treffende Trekkers (Voortrekker), Knars Vars (Sentraal), Die Wakker Akkers (Eunice), Klein Welpies (Fichardtpark), Gemaksone (Reitz), Grey’t Manne (Grey) en Breinbrekers (Sand du Plessis).

Aanvanklik het 13 junior spanne en 22 seniorspanne kragte gemeet, waarna die twee beste junior en senior spanne onderskeidelik by ’n gala-geleentheid teen mekaar debatteer het om die sentraalstreek se wenspanne te bepaal.

Oranje het andermaal die deelnemers, onderwysers en gaste met kenmerkende gasvryheid onthaal. Die geliefde kinderboekskrywer, Jaco Jacobs, het as seremoniemeester by dié geleentheid opgetree, terwyl Bliss die gehoor met hulle sang betower het. Nantes Kelder van De Goede Hoop-koshuis in Pretoria het as gasspreker ’n besielende boodskap oor lewenskeuses gebring.

Ná ’n spannende stryd wat byna gelykop geëindig het, het Oranje se Sterskieters as wenners in die junior kategorie uit die stryd getree. Hulle opponente in die finale debat was Ad Hoc Komitee van Hoërskool Witteberg.

Die finale senior debat was eweneens ’n titaniese stryd. Daar het Nimmersinkers, ook van Oranje, Redenerende Rakkers van Jim Fouché net-net die loef afgesteek.

“AfriForum is trots om by hierdie kompetisie betrokke te wees – dit is inspirerend om die jeug se entoesiasme en kameraderie te beleef. Ons waardeer dat C&N Sekondêre Meisieskool Oranje deel van die nasionale Dink of Sink-familie is en met hulle puik reëlings vir die sukses van hierdie uitdun gesorg het. AfriForum is ook innig dankbaar vir al die skole, hulle onderwysers, leerders en ouers wat opgeoffer het om die spanne se deelname moontlik te maak,” het Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake na afloop van die verrigtinge gesê.

Nicolene Muller, wat ter voorbereiding van die nasionale kompetisie as konsultant van AfriForum die streeksuitdunne koördineer, het bygevoeg dat dit waarlik ’n belewenis is om te sien hoe die leerders op hulle voete kan dink en debatteer oor aktuele sake. “Die leerders in die Vrystaat het alle verwagtinge oortref met hulle debatte. Dit getuig daarvan dat hierdie deelnemende skole en AfriForum besig is met goeie werk om die jonger generasie vir die toekoms voor te berei,” het sy gesê.

Die volgende uitdunne vind op 9 September 2022 by die Hoërskool DF Malan in Bellville plaas en op 14 September 2022 by die Hoërskool Montana in Pretoria. Die nasionale finaal sal op 8 Oktober 2022 in Centurion aangebied word.

Volg gerus die verloop van die kompetisie op www.dinkofsink.co.za en AfriForumTV.

Soortgelyke plasings