|

Potchefstroom-tak #VegEnBou die dorp rooi die afgelope naweek

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het die afgelope naweek op verskeie plekke ’n verskil gemaak as deel van die #VegEnBou-strategie. Die naweek is Vrydagaand begin met ’n sigbaarheidspatrollie deur die AfriForum-buurtwag. Daar is in die dorp en in die landelike gebied, met ongeveer 42 patrolleerders in 27 voertuie, gepatrolleer. Omdat daar geen voorvalle was nie, is dit ’n bewys dat hierdie operasie doeltreffend is.

Saterdag is daar sowat vyf inheemse Witstinkhoutbome in Alexanderpark-begraafplaas geplant, om die indringerbome wat vroeër deur die tak uitgehaal is, te vervang.

Terselfdertyd het diegene wat die kultuur- en erfenisportefeulje, sowel as die jeug- en sportportefeuljes beklee, in samewerking met die Gunners’ Association of South Africa, die palissades by die Gunners’ Memorial begin verf. Ná die harde werk het die jongmense wors vir die vrywilligers gebraai.

Slaggate is ook in Peter Mokaba-, Luke-, Fleishack-, Auto-, Von Wielligh- en Dr James Morokastraat gevul. Daar is 8,73 m² se slaggate met 35 sakkies asphalt gevul.

“Die AfriForum-bestuur poog werklik om projekte en aksies te reёl wat tot voordeel van die gemeenskap is en so ’n verskil te maak. Ons sal dit egter baie waardeer as die meer as duisend taklede in Potchefstroom ook betrokke raak. Ons gee ruim kennis van die aksies op ons Facebook-blad en die WhatsApp-groepe. Op Saterdag 3 September beplan die tak om indringerbome langs Alexanderpark-begrafplaas te gaan afsaag. As jy wil betrokke raak, kontak my by 083 460 9190,” sê Piet Theron, waarnemende voorsitter van die Potchefstroom-tak.

“Die aksies wat van stapel gestuur word maak werklik ’n verskil in Potchefstroom, maak nie saak hoe gering nie. Dit is egter kommerwekkend dat van ons lede nog nie besef dat hulle deel moet word van hierdie inisiatiewe nie. Dit is nou die tyd om hande te vat en saam te staan, anders gaan ons nie daarin slaag om dit wat vir ons van waarde is, te bewaar nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by AfriForum se Potchefstroom-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak Pretorius by 081 392 2071 om aan te sluit. Indien jy ’n donasie wil maak om slaggate te vul, kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020.

Soortgelyke plasings