|

DEEL 4: TIENERSELFDOOD EN -DEPRESSIE

Deur Gerhard Nieuwoudt

Tienerselfdood is wanneer ’n kind sy eie lewe beëindig. Dit kan impulsief of beplan wees. Nie alle selfdoodpogings lei egter tot die dood nie. In werklikheid beteken dit nie altyd dat jou kind wil sterf nie. Dit kan ’n uitroep om hulp wees.

Enigiemand kan sukkel met selfmoordgedagtes. Die tienerjare is veral moeilik en stresvol. Baie dinge kan die bui en gedrag van jou tiener beïnvloed:

  • Sy of haar liggaam verander.
  • Hy of sy het met hormone te make.
  • Jou tiener kan druk voel deur vriende, familie en onderwysers.
  • Hy of sy het moontlik te doen met negatiewe gebeure.

Moenie jouself of jou tiener verwyt as hy of sy selfdoodgedagtes of -neigings het nie. Besoek eerder jou kind se dokter om uit te vind wat hom of haar hulpeloos laat voel. Sodra dit bekend is, is behandelingsopsies beskikbaar.

Mense met selfdoodgedagtes ly aan verskillende simptome. Hartseer, wanhoop, verwaarlosing en woede om net ’n paar te noem.

Depressie

Depressie is ’n hoofoorsaak van selfdood. Dit is ’n komplekse siekte wat oordeel kan vertroebel. Dit is egter belangrik om te onthou dat depressie niemand se skuld is nie. Dit is ’n toestand wat die chemikalieë in jou tiener se brein beïnvloed. Dit verander sy of haar gedagtes, gevoelens en keuses. As jou tiener dink dat hy of sy nooit weer gelukkig sal wees nie, is die dood nie die antwoord nie. Dit kan tyd neem, maar professionele behandeling sal help.

Baie faktore kan depressie veroorsaak. Dit is gewoonlik ’n mengsel van dinge.

Sekere gebeurtenisse is moeilik om te hanteer, soos die dood, verbrokkeling van ’n huwelik, verhuising en afknouery. Dit is natuurlik om oorweldig of hulpeloos te voel. Kwessies soos siektes, probleme op skool en selfbeeld het ook ’n uitwerking.

Nog ’n groot faktor is genetika. Tieners loop ’n groter risiko vir depressie of ander geestesversteurings as familielede dit ook het. Deur jou eie depressie of geestesversteuring te hanteer, kan dit moeiliker wees om waarskuwingstekens by jou tiener raak te sien. Kinders is ook geneig om die gedrag van volwassenes wat hulle ken, na te boots.

Jou tiener kan aanhoudende of chroniese depressie hê. Hy of sy kan ook episodes of ’n kombinasie van albei soorte hê.

Sommige tieners wend hul tot dwelmmisbruik om probleme in die werklike wêreld te probeer oplos of vryspring. Alkohol en die meeste dwelms is ook depressante. Dit verander jou gedagtes en keuses.

Ander geestesgesondheidstoestande kan ook met selfdoodgedagtes geassosieer word. Dit sluit in angs, aandagafleibaarheid (AGHS) en bipolêre versteuring. Hierdie probleme moet aangespreek word om dié gedagtes te voorkom.

Sommige tieners sal probeer om depressie of selfdoodgedagtes weg te steek. Hulle kan onttrek of anders optree. Dit kan dit moeilik maak om waarskuwingstekens raak te sien. Dit is belangrik om ’n oop en deurlopende gesprek met jou tiener te voer. Vra, luister en vertel. By navraag sal baie kinders oopmaak. Praat met hulle om hul probleme en bekommernisse te ken en te verstaan. Miskien is hulle bang om daaroor te praat, of het hulle nie iemand om na hulle te luister nie. Sê vir hulle dat jy omgee en dat daar hulp beskikbaar is.

Depressie kan behandel word. Ek persoonlik voel kinders tussen die ouderdom van 12 en 18 moet vir depressie getoets word. Vra jou kind se dokter om jou tiener te toets as deel van sy of haar jaarlikse fisieke ondersoek. Dit is nog belangriker as jy glo dat jou tiener die risiko van selfdood loop.

Mediese sorg is van kritieke belang om gedagtes oor selfdood en selfdoodpogings te behandel. Dit kan ook help om die oorsake, soos depressie, aan te spreek. Behandeling sal wissel na gelang van elemente, soos:

  • Ouderdom
  • Familiegeskiedenis
  • Geestesgesondheidstoestand en geskiedenis
  • Tipe versteuring
  • Aanwesigheid van ander afwykings of toestande
  • Huidige lys van medisynes

Dit is algemene gebruik dat dokters ’n geïntegreerde sorgplan opstel. Dit sluit ’n kombinasie van medisyne, terapie en opvoeding in. Jou dokter sal die tipe, dosis en effek noukeurig bestuur vir die beste resultate. Hersteltyd vir selfdoodpogings en depressie wissel. Sommige vorms van depressie kan terugkeer. Jou tiener het dit miskien altyd en moet deurlopend behandel word.

Inligting en bewusmaking is ’n belangrike deel van die behandeling. Hoe meer jou tiener leer, hoe groter is die kans dat hy of sy die opdragte van die dokter sal gehoorsaam. Kinders besef nie hoe algemeen depressie is nie. Dit kan jou kind vertroos om te weet dat hy of sy nie alleen is nie – en dat dit kan beter word. Dit help ook om skuldgevoelens te verminder.

Sluit almal in by jou tiener se behandelingsplan. Stel ondersteuningsplanne saam met onderwysers en afrigters op. Stel familielede en vriende se ouers ook in kennis. Jou tiener het ondersteuning nodig van alle gebiede. Maak boonop seker dat jou tiener gemaklik is met die behandelingsplan. Hy of sy moet instem en veilig voel om sukses te kan behaal.

Dit is noodsaaklik om hulp vir jou kind te kry om sy of haar depressie te hanteer en selfdood te voorkom. As jy dink dat jou kind depressief is of die risiko loop om selfdood te pleeg, moet jy met jou dokter praat. Jy kan ook die nasionale reddingslyn vir selfmoordvoorkoming skakel by 0800 567 567. Dit is ’n gratis beradingsdiens wat 24 uur per dag, 7 dae per week oop is. Dit is ’n betroubare manier om advies en ondersteuning te kry. As jy bekommerd is oor ’n ander tiener, vertel dit dadelik vir sy of haar ouers. As jy dit doen, kan dit lewens red. Voel gerus vry om my ook direk te kontak by gerhard.nieuwoudt@afriforum.co.za.

Hier is ’n paar maniere waarop jy jou tiener teen selfdoodgedagtes en depressie kan beskerm:

  1. Sorg dat hy of sy roetine- mediese sorg kry. Dit sluit in die toets vir geestesversteurings, soos depressie.
  2. Laat jou kind weet dat hy of sy na jou toe kan kom met enige probleem, selfs een wat hom of haar in die moeilikheid kan bring.
  3. Leer jou tiener hoe hy of sy hulp of ondersteuning vir probleme kan kry.
  4. Sluit dokters, familie, vriende, onderwysers en afrigters in by jou tiener se welstand. Omring hulle met positiewe rolmodelle.
  5. Help jou tiener met selfvertroue. Leer hulle vaardighede om konflik, geweld en groepsdruk te hanteer.

As jy dink dat jou tiener die gevaar loop om selfdood te pleeg, kontak jou dokter om hulp te kry. Jy moet ook jou kind se dokter besoek as jy dink dat jou tiener depressie het. Skakel dadelik 0800 567 567 as jou tiener selfdood probeer pleeg.

Ongelukkig kan tienerselfdood die dood tot gevolg hê. Jou tiener het dalk ’n vriend of klasmaat wat selfdood gepleeg het. Wees voorbereid daarop dat jou tiener emosies van woede, hartseer, verwarring en hartseer sal ervaar. Praat met jou tiener oor sy of haar gevoelens.

Wees betrokke in jou kind se lewe, leer hulle ken. Spandeer tyd saam hulle en probeer die wêreld vanuit hulle perspektief en oogpunt sien.

Soortgelyke plasings