|

Deneysville-tak rol moue op om dorp reg te ruk

AfriForum se Deneysville-tak het sedert die begin van Augustus sowat 200 sakkies teer en 200 liter ss60 bitumenemulsie gebruik om verskeie slaggate in die dorp op te vul en verseël. Die tak het terselfdertyd die strepe by stopstrate oorgeverf om padveiligheid te verbeter nadat verskeie inwoners daaroor gekla het.

“Die opvulling van die slaggate maak nie net ons strate veiliger nie, dit wys ook ons tak se vordering in die gemeenskap. Ons is verheug oor die sukses van hierdie projek en die positiewe impak wat dit op padveiligheid en verkeersvloei het. Ons is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en ons vennote se betrokkenheid. Ons bedank ook die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit wat die teer vir die projek geskenk het,” sê Michael Gardner, AfriForum se voorsitter van die Deneysville-tak.

“Ons as tak wil ook graag die gemeenskap en ondernemings aanmoedig om ons te ondersteun om nog meer slaggate op te vul. Daar is nog heelwat gevaarlike slaggate in die dorp wat ons wil takel en ons het almal se hulp nodig, hetsy finansieel of fisies,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

AfriForum se Deneysville-tak woeker ook op ander gebiede, soos met ’n aktiewe buurtwag wat op die been gebring is om die gemeenskap veilig te hou. Die tak het ook tuingereedskap vir sy lede aangeskaf om oop velde en parke mee skoon te maak.

“Om oop velde en parke tussen woongebiede in stand te hou, help ook met die veiligheid in ons dorp en verhoed dat vermeende misdadigers daar kan wegkruip. Dit verlaag ook die brandgevaar tussen die huise en dra by tot die netheid van ons dorp,” sluit Gardner af.

AfriForum se Deneysville-tak moedig inwoners en ondernemings aan om betrokke te raak. Kontak die tak by 087 152 3176.

Soortgelyke plasings