|

Desentralisering van polisiemagte nodiger as ooit

Suid-Afrika se misdaadstatistiek het onder die ANC-regering se kaders en politiese aanstellings tragiese hoogtes bereik. AfriForum het in 2021 al ’n federale plan aangekondig wat die desentralisering van die staat se magte eis. Met misdaadsyfers in die land wat die hoogtes ingeskiet het, is dit duidelik ook tyd dat die SAPD se magte gedesentraliseer word en daar meer besluitneming op provinsiale- en streeksvlak geneem word.

AfriForum het vandag ’n verslag oor die desentralisering van polisiemagte bekendgestel. Uit hierdie verslag is dit duidelik hoe groot die verskille is in hoe gereeld sekere misdade in sekere provinsies plaasvind. Daar is groot verskille in die provinsies se aantal moorde, taxigebaseerde geweld, verkragtings, onwettige mynbedrywighede en plaasaanvalle. Dit sal dus sin maak dat elke provinsie ’n misdaadbekampingstrategie opstel en implementeer wat die provinsie se misdaad bekamp eerder as wat dit op nasionale vlak gedoen word.

“Ons het met die onluste in 2021 in KwaZulu-Natal en die onlangse taxistakings in die Wes-Kaap gesien hoe die plaaslike polisie sukkel om die situasie te takel as hulle vir besluite en hulp van nasionale vlak af moet wag. Daarbenewens sit ons met mense in top posisies wat nie bekwaam is om hul werk te doen nie of nie belangstel om dit te doen nie omdat hul eerste prioriteit hul politieke lojaliteite is. Dit het ’n enorme impak op polisiëring landwyd. Daarom sê ons dis tyd dat polisiemagte gedesentraliseer word sodat daar meer onmiddellik opgetree kan word,” sê Jacques Broodryk, woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

AfriForum het tans meer as 160 buurtwagte wat uit duisende vrywilligers bestaan. Daar is ook nagenoeg 630 opgeleide protospanlede. Hierdie mense werk hard om misdaad in hul gemeenskappe hok te slaan. Die regering maak aan die ander kant planne en beloftes oor hoe hulle misdaad gaan bekamp, maar volgens ’n onlangse studie van die Menslike Wetenskap Navorsingsraad het 79% van die respondente aangedui dat hulle nie tevrede is met die regering se planne nie.

Die SAPD het natuurlik verskeie ander uitdagings om te oorkom. Dit sluit stadige prosesse wat van nasionale vlak af deurgevoer moet word en ’n swaar gelaaide bestuurskorps in. ’n Verslag wat pres. Cyril Ramaphosa kort ná die 2021 onluste in KZN laat opstel het, het ook getoon dat die polisie onvoldoende hulpbronne het, swak kommunikeer en ’n tekort aan intelligensiedienste het. Op 30 Julie 2021 het nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sithole, erken herstrukturering en krimpende begrotings het daartoe gelei dat die SAPD nie aan sy mandaat kan voldoen nie.

Daar is verskeie voordele wat desentralisering kan inhou. Van die vernaamstes is bevordering van demokrasie, ’n meer sensitiewe aanslag vir plaaslike gemeenskappe en meer teenstand teen magsmisbruik van ’n sentrale regering. In lande insluitend die VSA en Kanada word ’n gedesentraliseerde polisiediens ingespan.

“Die patrone en voorkoms van misdaad in Suid-Afrika is ’n komplekse verskynsel en sosiale, ekonomiese en geografiese faktore speel alles ’n rol daarin. Daar is ook ’n groot verskil in die verskynsel van misdaad in elke provinsie en streek. Alhoewel die desentralisering van polisiemagte nie alle misdaad in die land sal uitskakel nie, sal dit wel die plaaslike polisie in staat stel om self probleemareas te identifiseer en daarvolgens te beplan om misdaad te bekamp,” sê Johan Nortjé, navorser by AfriForum.

Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings