|

AfriForum-veiligheidstrukture in suidstreek hou massapatrollie en pluk vrugte van opleiding

AfriForum-buurtwagte in die suidstreek (Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap) het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), sekuriteitsmaatskappye, verkeersowerhede, wetstoepassers en verskeie ander veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 19 April in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 16:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend geduur. 

In totaal het 1 092 AfriForum-patrolleerders en 907 patrolleerders van ander instansies aan die patrollie deelgeneem. Altesaam 14 668 km is in 928 voertuie afgelê. Tydens die patrollie is daar 34 insidente hanteer waaronder die besit van dwelms, huisbraaktoerusting en onwettige wapens, asook dronkbestuur.

“AfriForum se 72 veiligheidstrukture in die suidstreek het gedurende die nasionale patrollie ook van die geleentheid gebruik gemaak om hul kommunikasienetwerk te toets, skakeling met eksterne veiligheidsrolspelers gedoen, hul toerusting en gebeurlikheidsplanne nagegaan, asook hul bevel- en beheerstelsels getoets,” sê David Olivier, AfriForum se hoof van veiligheid vir die suidstreek.

Olivier sê verder dat daar vanjaar meer klem as ooit tevore op opleiding geplaas word en dat hy die verskil kan sien wat AfriForum se opleidingstrategie op die paraatheid van die suidstreek se buurtwagte het. Hierdie jaar het die AfriForum-takke in die suidstreek reeds meer as R400 000 op leierskapkursusse en taktiese opleiding spandeer. Dit sluit nie die aanbiedinge van die 18 basiese vlak 1 aanlynmodules in nie.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig.

Soortgelyke plasings