|

MyWoonbuurt-projek: Klerksdorp-tak vat hande met La Hoff-inwoners om hul buurt op te knap

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het op 10 Februarie hande gevat met die buurtwag van La Hoff en die DA om die toegegroeide parkie in Odendaalstraat oop te sny. Al die bome is gesnoei, die gedeeltes om die apparaat is netjies gemaak en die vullis is verwyder. In die komende week sal ’n trekker die gras verder sny.

Ongeveer 30 mense uit die La Hoff-gemeenskap het deur die loop van die oggend kom help en daar is ook kos, water, roomys, koeldrank en kontant aangedra om die harde werkers te ondersteun. Hierdie aksie is ’n toonbeeld van die verskil wat gemaak kan word sodra ’n gemeenskap saamstaan. Dit is egter ’n deurlopende projek wat nooit kan stop nie. Die gevolge van ’n gebrek aan onderhoudswerk is duidelik in talle dorpe en stede te sien. Inwoners moet trots op hulle woonbuurt wees en dit in stand hou.

“Dit is lekker om te sien dat buurtwagte leiding neem in hul buurte en nie net meer daarop fokus om patrollie te ry nie, maar ook op ander aspekte in die gemeenskap. Dit was vir ons ’n voorreg om hierdie inisiatief te ondersteun. Hou so aan, La Hoff,” sê Theo Gresse, die voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp.

“Ek is trots op dit wat die inwoners van La Hoff vermag het. Dit bewys net weer dat die leuse ‘eendrag maak mag’ steeds geld. Hierdie inwoners gaan nou lekkerder bly, omdat hulle meer gerus voel in hul buurt. Ek glo dat die inwoners van ander woonbuurte in Klerksdorp hierdie voorbeeld sal volg en op dié manier van Klerksdorp weer ’n pragstad maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings