|

Matriekslaagsyfer is misleidend –  vroeë skoolverlatingskoers wek kommer

AfriForum wens almal wat in 2023 matriek geslaag het, van harte geluk en bedank die onderwysers wat dit met hulle toewyding en harde werk, ten spyte van vele uitdagings in die onderwyssektor, moontlik gemaak het.

Die departement van Basiese Onderrig spog graag jaarliks met die hoë  matriekslaagsyfer.  Vanjaar is geen uitsondering nie, maar volgens Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder van onderwys, is AfriForum veral bekommerd oor die groep leerlinge wat nooit eens die matriekeksamen afgelê het nie.

Volgens die statistiek van die departement van Basiese Onderwys se verslag, Education statistics in South Africa 2012, het 1 208 973 leerlinge hulleself in 2011 in graad 1 van sogenaamde gewone skole bevind. Daarvan was 1 162 824 leerders in openbare skole en 46 149 in onafhanklike skole.

Daarteenoor het  715 000 voltydse en 182 000 deeltydse matrikulante in 2023 die matriekeksamen afgelê, waarvan  15 186 in onafhanklike skole was.

Dit is uiters kommerwekkend dat soveel van die leerlinge uit die stelsel verdwyn het. Dit is ’n tendens wat jaarliks gesien word. In die eerste plek bewys dit dat die verlaging van slaagvereistes leerders nie oortuig om aan te hou om tot matriek skool te gaan nie. Tweedens, selfs met matriek is ’n groot hoeveelheid jongmense nie werklik indiensneembaar nie, weens die swak gehalte onderwys wat hulle ontvang het en hierdie lae standaarde wat gestel word vir leerders om te slaag. Sonder ’n matrieksertifikaat sal dit wel nog moeiliker vir hulle wees om vir hulleself ’n volhoubare toekoms te skep en tot die nasionale ekonomie by te dra.

“Dit bly dringend noodsaaklik dat die departement van Basiese Onderwys aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos ’n gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, ’n tekort aan infrastruktuur, aanvegbare onderwyswetsontwerpe soos die BELA-wetsontwerp, wanfunksionaliteit van skole en dissiplineprobleme die hoof te bied,” verklaar Müller.

“Tot dít geskied, is die jaarlikse viering van ’n sogenaamde verbeterde matriekslaagsyfer misleidend en word ’n groot groep jongmense in die steek gelaat.”

Soortgelyke plasings