Pinocchio: Nuwe musiekkomedie eersdaags te sien by AfriForum Teater

Die gewilde storie van Pinocchio, die houtpop wat in ’n regte, egte seuntjie verander het, trek eersdaags ’n nuwe, humoristiese baadjie aan met sy verskyning in ’n unieke musiekkomedie op AfriForum Teater se verhoog. Dié produksie word aangebied deur die liedjieskrywer en musiekregisseur Machiel Roets van Aspoestertjie-, Pretville- en Liefling, die musiekblyspel-faam.

Die musiekkomedie word moontlik gemaak deur AfriForum en Solidariteit Helpende Hand.

“Hierdie produksie beloof om ’n meesleurende ervaring vir die hele gesin te wees – ’n betowerende samevoeging van oorspronklike musiek, humor, nostalgie en uitmuntende karaktervertolkings deur ’n uitsonderlike toneelgeselskap. Die geliefde marionet Pinocchio behou sy oorspronklike sjarme, terwyl nuwe lewe in dié karakter ingeblaas word,” vertel Roets.

“Dit is vir Solidariteit Helpende Hand ’n groot voorreg om deel te wees van hierdie produksie,” verduidelik Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Die waarde hiervan lê vir ons op verskeie vlakke. Eerstens is ons tema vir die jaar “Waardes wat werk” en hierdie produksie sluit baie goed daarby aan. Daarbenewens is Pinocchio ’n produksie wat gesinne gaan laat lag, dink én beplan. Deur middel van hierdie musiekkomedie gaan gesinne selfs hul lewenskeuses opnuut in oënskou neem.”

“Ons sien baie uit na die produksie van Pinocchio asook die mooi boodskap wat hierdie musiekkomedie aan die jongspan oordra. Moenie dié produksie wat tydens die Junie-skoolvakansie op die planke kom, misloop nie. Ouers kan dit gerus nou al aanteken op die kalender,” sê Carien Bloem, hoof van Kommunikasie en Openbare Skakeling by AfriForum Teater.

Die musiekkomedie Pinocchio word van 14 tot 30 Junie 2024 by AfriForum Teater opgevoer. Kaartjies is reeds beskikbaar op die teater se webblad by www.afriforumteater.co.za.

Soortgelyke plasings