|

DIE BELANGRIKHEID VAN BEHEERLIGGAME EN DEELNAME AAN DIE BEHEERLIGGAAMVERKIESINGSPROSES

Deur Natasha Venter

Die Departement van Basiese Onderwys se nuutste voorgestelde toelatingsbeleid vir skole, sowel as politici soos die LUR van Onderwys, Panyaza Lesufi, se gedurige aanvalle laat geen twyfel oor die toenemende aanslag op Afrikaanse skole nie. Een van die belangrikste maniere waarop ouers hierdie aanslae kan teenstaan, is om seker te maak dat hul kinders se skole sterk beheerliggame het wat by die bestuur en beleidsbepaling van die skool betrokke is.

Die departement het die driejaarlikse beheerliggaamverkiesing op 1 Maart oopgestel. Angie Motshekga, die Minister van Basiese Onderwys, het die tydperk vir die verkiesing (wat gewoonlik ’n maand lank duur) op 8 Februarie verleng tot 30 April om skole meer tyd te gee om hierdie belangrike proses tydens die COVID-19-pandemie na behore af te handel. As gevolg van die pandemie het skole vanjaar ook die keuse om ’n elektroniese verkiesing te hou. Die nominasieproses van kandidate moet wel reeds drie dae vóór die aanvang van die verkiesingsproses voltooi wees.

Volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet moet elke openbare skool ’n beheerliggaam hê en die belangrikheid van ’n beheerliggaam wat die kinders se belange op die hart dra, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Beheerliggame bepaal onder meer die taal- en godsdiensbeleid van ’n skool, asook die gedragskode, buitemuurse kurrikulum en finansiële bestuur van ’n skool. Die Skolewet is verder op die voorveronderstelling opgestel dat ouers of voogde van kinders die primêre verantwoordelikheid vir die opvoeding van hul kinders moet neem. Dit beteken dat ouers inspraak behoort te hê in hoe skole bestuur word en dít word verwerklik deur ’n skool se beheerliggaam.

Die feit dat ’n beheerliggaam vir ’n tydperk van drie jaar aangestel word, beteken dat dit uiters belangrik is dat die regte mense tot hierdie liggaam verkies word. Hierdie mense behoort werklik die skool en die kinders se belange op die hart te dra. Dit is daarom krities dat die regte kandidate hulself beskikbaar stel om verkies te word as lede van die beheerliggaam en dat ouers stem vir die kandidate van hul keuse. Ouers of voogde wat nog kinders in die betrokke skool het, asook onderwysers van die skool mag op die beheerliggaam dien. Ten einde ’n wettige verkiesing daar te stel, skryf die verkiesingsregulasies voor dat ten minste 15% van die skool se ouers tydens sodanige verkiesing moet stem. As dié kworum nie behaal word nie, word die verkiesing uitgestel en by die uitgestelde verkiesing geld geen kworumvereiste nie. Dit kan daartoe lei dat ’n sekere groep mense tot die beheerliggaam verkies word wat nie noodwendig die belange van die hele skool dien nie.

Betrokke ouers is nodig vir skole om te floreer en deelname aan die beheerliggaamverkiesingsproses is een van belangrikste en maklikste maniere om betrokke te wees. Ouers word derhalwe aangemoedig om skole tydens hierdie verkiesing te ondersteun om sodoende ’n konstruktiewe bydrae tot hul kinders se toekoms te maak.

Soortgelyke plasings