|

Nuwe Open Borders-dokumentêr wys uiters swak grensbeheer tussen SA en Eswatini; Lesotho

Die derde Open Borders-dokumentêr is vandag bekendgestel en volg op die eerste twee suksesvolle episodes wat reeds nagenoeg 250 000 keer gekyk is. Die derde episode, genaamd Cannabis and cattle theft, fokus op die grensbeheer tussen Suid-Afrika en Eswatini, asook die Vrystaatse grens en Lesotho.

“Grensbeheer het op sommige plekke so verval dat die grens bloot iets is wat op ’n kaart aangedui word. Heinings is verwyder of gesteel en selfs by grensposte kan enigiemand die land binnekom mits hulle die regte persoon ’n paar rand betaal,” sê Jacques Broodryk, woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum en vervaardiger van die dokumentêr, in hierdie episode.

Jacques Broodryk, woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum

Daar is verskeie uitdagings wat die boere in die onmiddellike omgewing van die grense daagliks ervaar. Dit sluit in die steel van vee, heinings en infrastruktuur. Daar is ook gevalle waar gewasse saans gesteel word en selfs waar buitelanders dagga op versteekte plekke op Suid-Afrikaanse plase plant.

In die dokumentêr word verskeie boere besoek wat van hul uitdagings vertel. Op die Lesotho-grens word vee dikwels gesteel en oor die grens na Lesotho gejaag. Dit gaan soms gepaard met uiterste dieremishandeling waar vee se oë uitgesteek word of kalwers wat agterraak en dan van kant gemaak word. Daar is ook gevalle waar koeie van Lesotho na Suid-Afrikaanse plase gejaag word om daar deur ’n prestige stoetbul gedek te word. Dit lei dikwels tot die verspreiding van siektes onder Suid-Afrikaanse vee wat tot gevolg kan hê dat die plaas onder kwarantyn geplaas moet word. Dit het dan ook ’n direkte impak op die boer se inkomste.

Die probleme met swak grensbeheer kring ook veel weier uit as net veediefstal. Onwettige myners (ook bekend as zama-zamas) word geskat as een van die grootste misdaadsindikate in die land wat meestal deur onwettige immigrante van Lesotho bedryf word. Nader aan die Lesotho-grens is daar dikwels onwettige Lesotho-werkers op plase of selfs ’n paar wat in diens is van SAPD-lede. Dié Lesotho-werkers pas laasgenoemde se vee op waar dit in velde wei waarvoor daar nie betaal word nie.

Boere aan die grens moet dikwels op eie onkoste heinings oprig omdat die wat die regering moet onderhou lankal reeds die gees gegee het of deur misdadigers verwyder is. Daar is boonop geen hulp van die SAPD of die weermag nie. Een boer vertel hoe onwettige immigrante van Eswatini daagliks op sy grond die grens langs ’n Suid-Afrikaanse weermagbasis oorsteek, maar nooit verhinder word om dit te doen nie. Daar is selfs kinders wat daagliks oor ’n heining spring om die grens oor te steek om in Suid-Afrika skool te gaan.

Raymond Hohls, operasionele bestuurder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, meen Suid-Afrikaanse grensbeheer gaan nie verbeter nie.

“Ek het al gesien hoe ons grense lyk en ek dink nie dit gaan beter word nie. Dit het buurtwagte gedwing om beter voor te berei. AfriForum bied gereeld opleiding aan ons meer as 160 buurtwagte aan om hulle te help om beter te beplan vir moontlike voorvalle. Die eerste twee Open Borders-dokumentêre het wel daartoe gelei dat grensbeheerbestuur ons genader het om beter samewerking te bevorder en dat hulle meer wagte opgelei het om grense te patrolleer,” sê Hohls.

Raymond Hohls, operasionele bestuurder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum

Nagenoeg 500 boere naby die Lesotho-grens het hul bedrywighede gestaak weens die konstante misdaad. Broodryk sê Open Borders is juis vervaardig om bewusmaking van dié probleem te skep, gemeenskappe te mobiliseer en om druk op die regering uit te oefen sodat daar iets aan die probleem gedoen kan word. Aaron Motsoaledi, minister van Binnelandse Sake, het net onlangs aangekondig dat meer as R10 miljard begroot is om Suid-Afrika se besigste grensposte “heeltemal te herontwerp en herontwikkel”.

Kyk Open Borders: Cannabis and cattle theft op AfriForumTV of op YouTube.

Soortgelyke plasings