water
|

AfriForum se Mpumalanga-takke toets vir cholera

Verskeie AfriForum-takke in Mpumalanga het op 7 Junie watertoetse gedoen om vas te stel of daar cholera teenwoordig is in die munisipale drinkwater. Daar is in Ermelo, Standerton, Bethal, Middelburg en Witbank watermonsters geneem om by ’n geakkrediteerde laboratorium getoets te word. Die uitslae wat op 28 Junie ontvang is toon geen tekens van cholera nie en daar is ook nie E.coli in die water teenwoordig nie.

“Ons is dankbaar dat al die drinkwater skoon is maar inwoners moet nie te gerus wees nie, munisipaliteite se suiweringsaanlegte is erg onder druk as gevolg van beurtkrag en ander uitdagings soos besoedeling in spruite en riviere,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.  

Die dorpe waar watermonsters geneem is het elkeen hul eie suiweringsaanlegte – behalwe Bethal wat voorsien word deur Randwater. Die Randwater-netwerk het skoon getoets en dus sal ander dorpe in die provinsie wat deur Randwater voorsien word ook skoon toets. Hierdie dorpe sluit onder meer Delmas, Sundra, Leandra, Evander, Kinross en Secunda in.

“Die swak bestuur en onbevoegdheid van munisipaliteite is nou vinnig besig om hulle in te haal. As daar nie dringend aandag gegee word nie gaan hierdie kwessie net vererger,” sluit Bekker af. 

Raak by AfriForum se Mpumalanga-takke betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Besoek gerus: www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings