|

Die Kaplyn is ’n storie wat vertel moet word’

AfriForum Teater het vandag bekend gemaak dat nog ’n gehalteproduksie binnekort by dié teater op die planke gaan wees. Ná die groot sukses van Die Gelofte kan teatergangers vanjaar uitsien na Die Kaplyn wat handel oor die gebeure tydens die Grensoorlog in 1980’s. Die eerste speelvlak van dié musiekblyspel vind van 26 April tot 21 Mei plaas.

Dié AfriForum-produksie in samewerking met Inhoud Huis Musiek is vol lewenslesse en bied ’n empatiese blik op gesinne se opofferings tydens dié oorlog. Volgens Johan Vorster, wat met die konsep en verhaal vorendag gekom het, is hierdie ’n storie wat vertel moet word en gaan dit ook oor ’n pa-en-seun-verhouding. Met temas soos liefde, genade, geloof, vergifnis en verhoudings kan teatergangers uitsien na ’n blyspel met puik musiek en akteurs.

“AfriForum het weer besluit om ’n historiese gebeurtenis as ’n musiekblyspel op die planke te bring sodat hierdie belangrike deel van die Afrikanergeskiedenis deur middel van die kunste aan die jeug oorgedra kan word. Só kan oud en jonk herinner word aan die opofferings en heldedade van ons voorgeslagte in moeilike tye en op verskeie terreine,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Ons hoop wanneer veterane in die teater gaan sit, moontlik met hulle veteranedrag en saam met hul families, om die blyspel te kyk dat dit ná die tyd ’n gesprek sal begin en kinders hul pa’s en oupas sal vra om hulle van hierdie oorlog te vertel. Ons het net soos met Die Gelofte gevoel daar is ’n groter storie wat vertel moet word,” sê Vorster.

Vorster het die teks saam met Jannes Erasmus, skrywer en regisseur van Die Gelofte, geskryf. Erasmus behartig ook die regie van Die Kaplyn. Vorster en Jacomien de Wet het die musiek en lirieke behartig terwyl Francois Lessing in samewerking met Vorster vir die orkestrasie en musiekregie verantwoordelik is.

Erasmus het ook deurentyd by generaal Lawrence Reginald Smith, voorsitter van die Raad vir Militêre Veterane Organisasies van Suid-Afrika (RMVO SA) en die Pro Patria Museum, en Jandré du Plessis, bestuurder van dié museum wat in 2022 geopen het, aangeklop om seker te maak dat die verhaal geskoei is op die werklikhede van die Grensoorlog al is die storielyn fiktief.

Die Kaplyn is ’n familiesaak wat almal raak en teatergangers gaan van die begin af ’n sneesdoekie byderhand moet hou. Dit is ’n belangrik stuk oor die geskiedenis wat vertel moet word. Met dié verhaal wil ons hulde bring aan die soldate, maar ook aan die gesinne,” sê Vorster.

“Musiekblyspele het ’n wonderlike opvoedkundige waarde waar gemeenskappe verhale deur stories en musiek herleef. Ons is opgewonde oor Die Kaplyn wat by die AfriForum Teater vertel gaan word,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder van die AfriForum Teater.

Kaartjies vir Die Kaplyn is beskikbaar op AfriForum Teater se webblad of besoek www.diekaplyn.com om jou kaartjies te bespreek.

Soortgelyke plasings