|

AFRIFORUM PRAAT OOR JEUGBEMAGTIGING BY VN-REEKS OOR HUMANITÊRE KWESSIES

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum se verskeie jeugleierskap-ontwikkelingsprojekte, insluitend die teenboelieprojek en Besigheidsbytjies-kompetisie, gaan vandeesweek met jong, invloedryke internasionale leiers tydens ’n gesogde webinaar van die Verenigde Nasies (VN) en die organisasie Humanitarian Affairs bespreek word.

Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder van Jeugleierskap, is deur Kim Solomon en Janice Leong van Humanitarian Affairs genooi om ’n aanbieding tydens dié webinaar-reeks oor humanitêre aangeleenthede aan te bied met die tema: Waar moet jy fokus om die meeste impak te hê?

Bräsler het haar meestersgraad in openbare bestuur, met ’n spesifieke fokus op humanitêre leierskap, in 2019 aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) verwerf en was tydens haar studies deur die universiteit gekies om die University Scholars Leadership Symposium in Hanoi, Viëtnam, by te woon. Hier het sy vir Solomon en Leong ontmoet en by die organisasie betrokke geraak. Sy is vanjaar ook aangewys as voorsitter van die jeugbestuurskomitee van Humanitarian Affairs se Afrika-vleuel.

Die webinaar word deur uitgesoekte jong leiers en studente van regoor die wêreld, insluitend Australië, Kanada, Argentinië, die VSA, China en Duitsland, bygewoon. Volgens Bräsler is die hoofdoel van die webinaar om dié jongmense, wat elk kampvegters vir verandering in hul gemeenskappe is, te bemagtig om hul passie vir verandering ’n werklikheid te maak. “Hulle vorm deel van ’n wêreldwye gemeenskap van jongmense wat ’n verskil in hulle eie gemeenskappe wil maak en sosiale en ekonomiese verandering wil sien. Dit is belangrik om na direkte probleme in jou gemeenskap te kyk en om dan op ’n realistiese manier vir jouself ’n doel te stel om die probleem vinnig, effektief en volhoubaar op te los. Ons kan baie by mekaar leer en hierdie webinaar skep juis so ’n platform,” sê sy.

Tydens haar voorlegging gaan sy gesels oor die teenboelie- en selfdoodbewusmakingsveldtog, die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie (wat veral fokus op die jeug), asook die onlangse Centurion-gemeenskapsmark en hoe dit inskakel by die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte, insluitend ekonomiese groei, gehalte-onderrig en die reg tot werk. “Dit is belangrik om ’n boodskap van hoop oor te dra, waar jongmense hulle roeping kan uitleef en kan leer om diensbaar in hulle gemeenskap te wees. Dit is ook belangrik dat hulle die krag van ’n gemeenskap leer. Ons is almal deel van die groter masjien om iets te bereik, maar elkeen het ’n belangrike rol sodat die hele masjien voluit kan funksioneer.”

Volgens Bräsler is dit vir AfriForum ook belangrik om aan hierdie tipe inisiatiewe deel te neem om wêreldwye bewustheid oor die organisasie se projekte te skep. “Ons veg nie net nie, maar ons bou ook aan ’n toekoms vir ons nageslag. Jongmense van ander lande kan ook leer uit die projekte wat AfriForum aanpak en dit in hul eie gemeenskappe gaan toepas. Dit is ’n baie groot eer om deel van hierdie aanbieding te wees en om dit wat ek in teorie geleer het, asook my persoonlike ervarings met die werk wat ek by AfriForum doen, met ander studente van regoor die wêreld te deel.”

Soortgelyke plasings