|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek die volgende stap gedoen om ’n stokkie voor die regering se plan te steek om R50 miljoen aan Kuba te skenk. Die burgerregteorganisasie se takke het ook behoorlik gewoeker om hul dorpe skoon te maak en allerlei opknappings en herstelwerk gedoen om hul dorpe te verfraai.

AfriForum het reeds in 2022 ’n dringende interdik bekom om die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) te verhoed om R50 miljoen aan die Kubaanse regering te skenk. Die Suid-Afrikaanse regering se poging om te appelleer is van die hand gewys. Die partye was weer vandeesweek in die hof vir ’n hersieningsaansoek en uitspraak is voorbehou.

“Suid-Afrika bevind homself tans in ’n kragkrisis, ’n werkloosheidskrisis, ’n korrupsiekrisis en ’n krisis om ekonomies te groei. Daar is geen regverdiging vir ’n R50 miljoen-skenking aan Kuba nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

Volgens ’n verslag wat deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding versoek is, staan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) op die punt om onder administrasie geplaas te word. Indien dit wel sou gebeur, staan AfriForum Jeug gereed om die regte van studente te beskerm.

René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug

AfriForum se Sasolburg-tak is bekend vir al die skoonmaakprojekte wat hulle aanpak. Dié week het hulle die groenstrook van die staatshospitaal tot by die Primêre Skool Fonteine skoongemaak. Twee hektaar gras is gesny en bome is gesnoei. 21 vrywilligers het aan die skoonmaaksessie deelgeneem.

In Krugersdorp het die AfriForum-tak vroue by die Jack Cotton-, Pioneer- en President-ouetehuise met ’n ete en geskenk vir Moedersdag bederf. In Vanderbijlpark het 30 vrywilligers gehelp om die park in Maxwellstraat skoon te maak. Meer as ’n hektaar is skoongemaak en drie groot vragte gemors is weggery.

AfriForum se Delmas-tak het dié dorp se ingang in Uitbreiding 4 vanaf die R50-roete in samewerking met vrywilligers en die organisasie Delmas Herleef begin opknap. Randstene is skoon geskoffel en geverf, rommel is opgetel en stoptekens is vervang waar dit ontbreek. Die velde rondom die ingang is ook met ’n trekker en bossiekappers gesny.

AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag het rondom sewe kragbokse in die dorp skoongemaak. Kabeldiefstal vind veral tydens beurtkrag plaas en daarom was dit nodig om die areas om die kragbokse oop te sny en dit sodoende te beveilig.

AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag het rondom sewe kragbokse in die dorp skoongemaak

Slaggate is ’n aanhoudende kopseer vir die inwoners van Kempton Park. Die AfriForum-tak hier het 60 slaggate met 105 sakkies teer gevul.

Soortgelyke plasings