|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het hierdie week aangekondig dat die organisasie steeds alles in die stryd sal werp om vernietigende wetgewing soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA-wet) teen te staan. Die takke het ook skouer aan die wiel gesit om hul dorpe op te knap.

AfriForum het pas weer kommentaar ingedien oor die Bela-wet nadat die verkose komitee oor onderwys en tegnologie, sport, kuns en kultuur van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aangekondig het dat skriftelike voorleggings tot 19 Januarie 2024 gestuur kan word aan belabill@parliament.gov.za. AfriForum doen ’n beroep op almal wat belange by ons kinders se toekoms het, om aan hierdie openbare raadplegingsproses deel te neem, selfs al het hulle by vorige geleenthede reeds hieroor mondelinge of skriftelike kommentaar gelewer.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake

Die burgerregteorganisasie het in ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa geëis dat hy die NGV-wetsontwerp terugverwys na die Nasionale Vergadering. AfriForum het die gevare van NGV benadruk en het Ramaphosa gewaarsku dat die organisasie nie sal terugstaan as hy die rug keer op die gesondheid van Suid-Afrikaners nie.

Kgosi Moroka-dag is deur Kgosi Gaboilelwe Moroka laat herleef met ’n gesamentlike erfenisprojek in samewerking met AfriForum. Monumente ter herdenking aan die Groot Trek en die verkiesing van die eerste Voortrekkerregering is skoongemaak en besoek. Daarna is die grafte van Kgosi Moroka II en sy opvolger, Kgosi Tshipinare, besoek. AfriForum het verder die vlag van die Barolong Boo Seleka aan Kgosi Gaboilelwe oorhandig by die Koninklike Kgotla (vergaderplek) van Thaba ’Nchu.

Die Rustenburg-tak het hofstukke op die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) beteken om die voortslepende probleme rakende elektrisiteitsvoorsiening in die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit op te los. Inwoners van dié stad ervaar gereeld kragonderbrekings weens swak onderhoud van dié munisipaliteit se elektrisiteitsinfrastruktuur.

Die Parys-tak het ten spyte van die feit dat ’n afspraak gemaak is voor dooiemansdeur beland toe die tak ’n memorandum oor die voortslepende waterkrisis aan Tebogo Manele (munisipale bestuurder), Victoria de Beer (burgemeester) en Mokete Phele (waarnemende tegniese direkteur) wou oorhandig. Hierdie optrede deur bestuur van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is ’n nuwe laagtepunt in die krisis.

In Swellendam het die tak skryfbehoeftes ter waarde van nagenoeg R8 000 aan die Vulindlela Msenge-bewaarskool in Railton geskenk sodat die sowat 60 kinders in dié skool ’n waardevolle hupstoot in hul onderrig kan kry.

Die Vryburg-tak het sy goeie werk voortgesit deur voort te gaan met die instandhouding van die konsentrasiekampterrein. Die tak het ook leë erwe in die dorp skoongemaak en sypaadjies skoongesny. Ses witstinkhoutbome is aan die Gert Lubbe-stadion, Laerskool Vryburg en die Christelike Volkskool Vryburg geskenk.

AfriForum het antwoorde by die Noord-Kaapse Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit gevra oor hul aksieplanne ten opsigte van waterprobleme. Dit volg nadat inwoners van Kimberley al vir weke sonder water is en daar lewensgevaarlike blougroenalge in die Vaalrivier gevind is.

Die tak in Potchefstroom het saam met GreenThorn Environmental Solutions en die plaaslike brandweer gewerk om versperrings uit die Mooirivier te verwyder. Tydens die skoonmaakprojek is daar gefokus op plekke in die rivier waar dooie bome moontlik die vloei van water tydens swaar reëns kan verhinder en tot oorstromings van strate, brûe en geboue kan lei. Die tak het ook bome gesnoei op die terrein langs die Alexanderpark-begraafplaas.

Die Potchefstroom-tak het ook ’n brief aan die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit gestuur oor die haglike toestand van die vullisterrein skaars drie maande nadat ’n nuwe kontrakteur die bestuur van dié terrein oorgeneem het. Geen terugvoer is tot dusvêr ontvang nie.

AfriForum se Walker Drive-buurtwag in Port Elizabeth het tydens ’n patrollie op die N2 daarin geslaag om ’n vermeende kabeldief vas te trek en die verdagte is aan die SAPD oorhandig.

Soortgelyke plasings