|

AfriForum se Parys-tak voor dooiemansdeur met watermemorandum

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se munisipale bestuurder, burgemeester en waarnemende tegniese direkteur is in warm water nadat ’n versoek vir die oorhandiging van ’n memorandum oor die voortslepende waterkrisis in Parys, blatant geïgnoreer is. Lede van AfriForum se Parys-tak het vanoggend voor dooiemansdeur beland, ten spyte van ’n afspraak wat vir die oorhandiging van die memorandum met Tebogo Manele, Victoria de Beer en Mokete Phele (onderskeidelik die munisipale bestuurder, burgemeester en waarnemende tegniese direkteur van dié munisipaliteit) gemaak is. Dié skreiende optrede is ’n nuwe laagtepunt in dié munisipaliteit se duidelike onverskillige houding jeens die waterprobleme in dié dorp.

AfriForum se tak eis nou dat Phele se kop moet waai. ’n Bedankingsbrief is boonop reeds namens Phele saamgestel en versprei. Dit volg nadat dié waarnemende tegniese direkteur in Februarie vanjaar onderneem het om te bedank as die hele Parys nie binne ses maande water het nie. Meer as tien maande het sedertdien verstryk en die inwoners van dié Vrystaatse dorp het nou die minste water nog en tog het Phele nog nie bedank nie.

Die uitnodiging vir vandag se oorhandiging is reeds Dinsdag per e-pos aan die betrokke munisipale personeel gestuur. Nie Manele, De Beer of Phele het hierop gereageer nie. Dit is volgens AfriForum kenmerkend van kommunikasie met dié munisipaliteit en is dit dus nie ’n verrassing dat niemand vandag opgedaag het om die memorandum in ontvangs te neem nie.

Die memorandum is egter later aan die personeelhoof, Harry Mofokeng, oorhandig. Mxolisi Pali, waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste, het op sy beurt onderneem dat daar teen môre (Vrydag 8 Desember 2023) terugvoer op AfriForum se memorandum gegee sal word en dat ’n vergadering belê sal word. 

In die memorandum wys AfriForum daarop dat dié organisasie al telkens aangebied het om te help met die oplossing van Parys se waterprobleme, maar dat dit bloot geïgnoreer is. Voorts wys AfriForum op die ekonomiese impak wat die watertekorte tans op ondernemings het en die invloed wat tekorte in die komende feesseisoen op dié toeristedorp gaan hê. AfriForum waarsku daarbenewens dat indien daar nie dringend ingegryp word nie, die burgerregteorganisasie genoodsaak sal wees om die hof hieroor te nader.

“Dis baie teleurstellend dat die munisipaliteit geen wilskrag het om Parys se waterprobleme op te los en ’n diens aan die gemeenskap te lewer nie. Hulle wil ook nie, ten spyte van hul eie duidelike onkundigheid, raad van kundiges aanvaar nie,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

“Terwyl krane hier midde-in ’n ongekende hittegolf leegloop, is munisipale amptenare nie in die minste besorg oor die welstand van Parys se inwoners nie. Dit wys duidelik waar hul sentiment lê,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Kontak vir Schalk Burger by 082 653 4281om by dié AfriForum-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings