|

Kleinhoewes nou nóg veiliger danksy Benoni-tak se nuwe ysterperde

AfriForum se Benoni-tak hou deurlopend die veiligheidsituasie op kleinhoewes, plase en landelike gebiede aan die buitewyke van die dorp met ’n valkoog dop, en danksy die tak se landelike veiligheidsprojek kan patrollies nóg makliker in dié gebiede gery word. Die tak het onlangs twee motorfietse by sy arsenaal van veiligheidshulpmiddels gevoeg sodat patrollies makliker deur die afgesonderde gebiede gery kan word.

Die tak se buurtwag het bevind dat motorfietse sekere strategiese voordele bied wat voertuie nie noodwendig het wanneer patrollies gedoen word nie. Sommige van die grootste voordele is dat die buurtwag vinnig op noodoproepe kan reageer en maklik ’n toneel kan fynkam.

“Ons glo dat die bekamping van misdaad deurlopend samewerking van die gemeenskap vereis, sowel as die toepassing van nuwe en innoverende idees. Ons is oortuig daarvan dat die nuwe toevoegings tot die tak se bestaande veiligheidshulpmiddels ’n groot aanwins sal wees en ’n merkbare verskil in die stryd teen misdaad in en om Benoni sal maak,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Samewerking is die sleutel tot sukses, en saam kan AfriForum se Benoni-tak en die gemeenskap ’n positiewe impak op die veiligheidsituasie op die dorp maak. Raak vandag nog by die tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings