|

DRUK DEUR AFRIFORUM HELP OM MYNONTGINNING BY KRUGERWILDTUIN TE STUIT

Deur Alet Rademeyer

’n Aansoek om steenkool op die voorstoep van die Nasionale Krugerwildtuin te ontgin, is deur die Departement van Minerale en Energie afgekeur.

AfriForum het verlede jaar by die stryd teen die beoogde steelkoolmyn betrokke geraak en selfs ’n strafregtelike klag teen Singo Consulting (Edms.) Bpk. ingedien.

Die klag is by die Komatipoort-polisiestasie ingedien en het verband gehou met vergrype deur die maatskappy nadat dit aan die lig gekom het dat die maatskappy glo bedrog op grond van plagiaat gepleeg het. Verteenwoordigers van die Marlothpark Inwonersvereniging was saam tydens die indien van die klagte.

Die inwonersvereniging, die Nwenya Lodge-bestuur, die Marlothpark Belastingbetalersvereniging en besorgde individue het ná ’n vergadering in Junie verlede jaar vir Richard Spoor, bekende menseregte-prokureur, opdrag gegee om ook ’n aansoek teen die beoogde myn by die departement in te dien.

Die burgerregte-organisasie het ook verlede jaar kapsie gemaak  omdat hy die omgewingsimpakstudie eers ontvang het nadat dié organisasie se regspan ’n skrywe aan Singo Consulting en Manzolwandle Investments (Edms.) Bpk. gestuur het. Dít terwyl AfriForum ’n geregistreerde belangegroep is. AfriForum het uitgewys dat geen behoorlike konsultasie- of openbaredeelnameproses gevolg is nie.

Manzolwandle Investments wou die myn oor ’n gebied van 18 000 ha digby die wildtuin begin. Dit sal enorme nadelige en vernietigende gevolge vir die onmiddellike omgewing, die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, die padnetwerk in Mpumalanga en landbouaktiwiteite inhou.

Die Departement van Minerale en Energie het op 28 Oktober hul dokument van afkeuring aan Manzolwandle investments (Edms.) Bpk. gestuur en die maatskappy moes binne 14 kalenderdae alle belanghebbende en geaffekteerde partye in kennis stel. Tot hede het AfriForum nog geen kennisgewing van dié besluit gekry nie.

Die redes wat die departement vir sy besluit aanvoer is dat die maatskappy nie aan die openbaredeelnameproses en omgewingstudies voldoen het nie. Voorts moes daar ook met die Departement van Water en Sanitasie gekonsulteer geword het en ’n omvattende ontginnings- en rehabilitasieplan moes ingedien word om te verduidelik wat die impak van mynbou op grondgebruik sal wees.

Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum,  sê die afkeur van die aansoek is ’n groot sukses vir alle gemeenskappe waar onwettige optrede en ongerymdhede by mynaansoeke plaasvind. AfriForum sal die situasie verder moniteer en ook by ander sake betrokke raak indien moontlik.

De Klerk wys ook daarop dat indien die mynbedrywighede sou voortgaan Mpumalanga as toeristebestemming ekonomies in duie kan stort.

*Foto: Hennie Bekker, Distrikskoördineerder: Laeveld, Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum en Cindy Benson van die Marlothpark Inwonersvereniging.

Soortgelyke plasings