|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Julius Malema en die EFF se aansoek om verlof om te appelleer teen ’n interdik wat AfriForum in 2017 verkry het, is vandeesweek in die Konstitusionele Hof van die hand gewys. Hierdie interdik het Malema en die EFF verbied om mense aan te hits om privaat eiendom te betree en te beset. Die EFF moet nou al die oorblywende koste vir die afgelope ses jaar se hofgevegte met rente aan AfriForum terugbetaal.

AfriForum het reeds begin met voorbereiding vir regsaksie om die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA-wet) te beveg indien die wetsontwerp ná oorweging deur die Nasionale Vergadering, Nasionale Raad van Provinsies en die president aanvaar en geïmplementeer word. Die lede van die ANC en EFF in die parlementêre portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys se meerderheidstem het vroeër veroorsaak dat dié omstrede wysiging deur die komitee aanvaar is.

Die organisasie het ook sy stryd teen die Onteieningswetsontwerp [B 23 – 2020] voortgesit deur ’n mondelinge voorlegging te doen voor die Gekose Komitee oor Vervoer, Staatsdiens en Administrasie, Openbare Werke en Infrastruktuur in die parlementêre distrik (Nasionale Raad van Provinsies) in Kaapstad.

Bheki Cele, minister van Polisie, se afdanking is opnuut deur die burgerregteorganisasie geëis nadat Cele aangekondig het dat meer as 7 000 polisiebeamptes oor die afgelope vyf jaar in hegtenis geneem is weens ernstige misdade soos moord en transitorooftogte.

Nadat skuldeisers van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit bates van dié munisipaliteit begin opskryf het, het AfriForum ’n dringende brief aan die Vrystaatse premier gerig vir finansiële ingryping sodat dié sukkelende munisipaliteit steeds basiese dienste kan lewer.

In Bethal het die AfriForum-tak 150 sakke teer gebruik om slaggate te herstel en meer as 100 sakke vullis is opgetel en verwyder tydens ’n skoonmaakprojek voor die plaaslike Dierebeskermingsvereniging en in die veld langs die Total Janmari-vulstasie.

Die AfriForum-tak in Oos-Londen het drie bome by die Laerskool Grens geplant terwyl die tak in Brits agt bome by Laerskool Olienpark geplant het vir Boomplantmaand.

Danksy ’n op-en-wakker-radioroepgemeenskap, AfriForum se Potgietersrus-buurtwag en verskeie ander veiligheidsorganisasies kon ’n plaasaanval Maandag net buite Mokopane gefnuik word en vier vermeende aanvallers is ook aangekeer.

AfriForum se Walker Drive-buurtwag in Gqeberha het ’n vermeende inbreker in samewerking met Extreme Security en Atlas Security vasgetrek en aan die polisie oorhandig. Dié buurtwag het ook die polisie ontbied nadat ’n liggaam op die Maitland-strand gevind is en hulle het ook die nodige hulp aan die nooddienste op die toneel verleen.

Die AfriForum-buurtwag in Durbanville het in samewerking met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling van die Kaapstad Metro en die niewinsgewende organisasie MES gehelp om nagenoeg 30 hawelose mense te identifiseer en te help om ’n alternatiewe heenkome te vind. Hierdie buurtwag het ook die afgelope paar weke heelwat vermeende misdadigers aangekeer.

Die Krugersdorp-buurtwag het ’n kursus in basiese handwapenhantering voltooi om die buurtwag se patrolleerders se bevoegdheid deurgaans te verbeter.

Die teenboelieveldtogspan het Laerskool Rayton besoek om die leerders bewus te maak van afknouery in skole.

AfriForum Jeug het ’n leierskapsontwikkelingsessie aangebied vir hoërskoolleerders in die Pretoria-omgewing om die leierskapspotensiaal van die leerders te ontwikkel.

Soortgelyke plasings