|

AFRIFORUM-VEILIGHEIDSTRUKTURE RY VERDER AS 74 000 KM TYDENS NASIONALE MASSAPATROLLIE

Deur Alet Rademeyer

As daar nou een ding is wat AfriForum en die res van die land tydens die onlangse protesoptogte en plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng geleer het, is dit dat gemeenskappe slaggereed moet wees om hulself te beskerm en te beveilig.

Bheki Cele, Minister van Polisie, het wel sy mond vol oor die optrede van veral buurtwagte en veiligheidsmaatskappye tydens die voorvalle van plundering, maar indien hierdie mans en vroue nie paraat was en vinnig binne die raamwerk van die wet opgetree het nie, was die skade en lewensverlies waarskynlik nóg groter.

AfriForum se veiligheidstrukture in die Noord-, Wes-, Suid- en Oos-Kaap (suidstreek) het van 30 tot 31 Julie 2021 aan ’n uiters suksesvolle nasionale patrollie deelgeneem.

Hoewel minder AfriForum-lede aan dié patrollie deelgeneem het in vergelyking met vorige patrollies – hoofsaaklik weens COVID-19, boerderywerksaamhede en algemene wintersiektes – was daar wel ’n 91%-verhoging in deelname deur nie-AfriForum-lede. Dit sluit verhoogde betrokkenheid deur die SAPD en ander veiligheidstrukture in die omgewing in. Nagenoeg 400 voertuie het altesaam 14 000 km in twee dae afgelê, terwyl altesaam 43 voorvalle hanteer is.

Hierdie patrollie het ook as ’n geleentheid vir buurtwagte gedien om na hul onderskeie gemeenskappe uit te reik. Buurtwaglede het onder meer kerrie-en-rys en kospakkies by plaaslike polisiestasies uitgedeel om die bestaande goeie verhoudings tussen die SAPD en buurtwagte selfs verder uit te bou.

Die patrollie het ten doel gehad om hoë sigbaarheid te handhaaf en dit is bereik deur voertuie in ’n konvooi deur dorpe te laat ry, padblokkades saam met die SAPD te hou, kwaadstokers uit woongebiede te verwyder en beslag te lê op ’n verskeidenheid onwettige, tuisgemaakte wapens.  “Veiligheid is in almal se belang en daarom is dit belangrik dat ons almal saamwerk om verhoogde vlakke van veiligheid in ons gemeenskappe te bewerkstellig. Die regering het steeds nie die vermoë of die wil om gemeenskappe te beveilig nie en daarom word ons genoodsaak om dit self te doen.

“Die nasionale patrollies het ook ten doel om verhoudings tussen veiligheidstrukture te bevorder en verskaf die ideale platform om hierdie samewerking tussen AfriForum-buurtwagte, die SAPD, sekuriteitsmaatskappye en ander plaaslike buurtwagte te bewerkstellig en aan te moedig,” sê Mark Kuys, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.

In Gauteng, Limpopo en Mpumalanga (noordstreek) is ook patrollie gery om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsinstansies aangepak.

Altesaam 660 AfriForum-lede in Gauteng (331), Limpopo (81) en Mpumalanga (248) en 41 ander instansies het in totaal 30 169 km in 393 voertuie afgelê. Die patrollie het omstreeks 16:00 op Vrydag 30 Julie begin en tot 06:00 op Saterdag 31 Julie geduur.

In Gauteng is hulp verleen tydens 31 voorvalle in dié provinsie. Hierdie voorvalle sluit in die vastrek van roekelose en dronkbestuurders, die voorkoming van gewapende rooftogte en verskeie padblokkades waar mense vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is. In Limpopo is hulp ontbied ná huisbrake plaasgevind het, terwyl moontlike ander huisbrake ook voorkom is. Daar was ook ’n poging tot voertuigdiefstal wat suksesvol in samewerking met die SAPD gefnuik is.

In Mpumalanga het 248 vrywilligers in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies 15 voorvalle suksesvol hanteer.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping en AfriForum se noordstreekbuurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies organiseer om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Hemmens het ook die Heritage Protection Group (HPG), die Rural Safety Police, die SAPD, onderskeie GPF-groepe, asook talle sekuriteitsmaatskappye bedank vir hul samewerking.

Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo, sê daar is tydens die patrollie gesien hoe gemeenskappe professioneel en gedissiplineerd – binne die raamwerk van die wet – eienaarskap van hulle eie veiligheid neem en doelgerig ’n netwerk van samewerking vestig om daardeur hulle voorspoedige voortbestaan te verseker. “Misdadigers onttrek hulself van ’n gemeenskap wat sigbaar en paraat is en kan saamwerk.”

AfriForum se buurtwagte in die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal (sentraalstreek) het ook hul kant tydens die nasionale massapatrollie gebring. Altesaam 42 buurtwagte en 1 541 patrolleerders in 828 voertuie het deelgeneem en meer as 29 847 km afgelê. Altesaam 26 voorvalle is suksesvol in samewerking met die SAPD hanteer.

“AfriForum hou hierdie nasionale massapatrollies om sigbaarheid en samewerking te verbeter en die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker. Ons kan nie op die staat alleenlik staat maak om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstansie in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.

Om by jou naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit SMS jou naam na 45353.

Soortgelyke plasings