Hande
|

Durbanville-buurtwag sorg vir SAPD se leë mae op verkiesingsdag

AfriForum se Durbanville-tak het ’n finansiële bydrae aan die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gemaak vir ’n maaltyd vir die polisiebeamptes wat op verkiesingsdag (29 Mei) gewerk het. Hierdie ruim skenking van R2 000 het verseker dat die toegewyde polisiebeamptes wat by stemlokale in Durbanville diens gedoen het, die nodige kos gehad het tydens hul lang en veeleisende skofte.

Leendert Stoop, voorsitter van die AfriForum-tak in Durbanville, het sy trots uitgespreek oor die samewerking en betrokkenheid van die organisasie en sy lede: “AfriForum is hier vir die gemeenskap en ons wil graag saam met ander rolspelers soos die gemeenskapspolisiëringsforum en SAPD werk om ’n volhoubare en veilige toekoms vir die Durbanville-gemeenskap te skep. Hierdie skenking is ’n klein bydrae om ons waardering vir die SAPD se harde werk en toewyding, wat soms ongesiens verbygaan, te wys.”

Verkiesingsdae is krities vir die funksionering van die demokrasie en vereis uitgebreide koördinering en lang ure van verskeie belanghebbendes, insluitend wetstoepassers. Die steun van gemeenskapsorganisasies soos AfriForum se Durbanville-tak beklemtoon die belangrikheid van burgerlike verantwoordelikheid en die waarde van gemeenskapsamewerking om ’n veilige verkiesingsproses te bevorder wat goed bestuur is. Die SAPD het ook ander skenkings van buurtwagte in Durbanville ontvang, wat saamgewerk het om die SAPD-lede te ondersteun.

Kontak Stoop by 074 513 6199 om by AfriForum se Durbanville-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings