Ellisras se drinkwater geskik vir menslike gebruik


Ellisras se drinkwater is skoon verklaar nadat AfriForum ’n Suid-Afrikaanse Nasionale Akkrediteringstelsel (Sanas)-toets daarop laat doen het as deel van die burgerregte-organisasie se blou-en-groendruppelprojek.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, het die toetse wat AfriForum vroeër vanjaar gedoen het, gewys dat die drinkwater dalk E. coli kan bevat. “Ons het toe weer watermonsters geneem en na ’n Sanas-geakkrediteerde laboratorium gestuur om getoets te word. Hierdie toetse het aangedui dat die water skoon is en minder as 1 E. coli en totale koliforme per 100 ml water bevat,” sê Grobbelaar.

Die drinkwatertoetse is gedoen by die Ellisras kliniek en by die Ellisras provinsiale hospitaal.

“AfriForum sal deurlopend die water toets om seker te maak dat dit geskik bly vir menslike gebruik,” voeg Grobbelaar by.

Soortgelyke plasings