|

Energie-indaba: Groot opgewondenheid oor klein modulêre kerntegnologie, maar steenkool sal nie oornag waai

Die bekostigbaarheid van elektrisiteit, die mededingendheid van kragverskaffers, die voldoening aan die uiteenlopende behoeftes van gebruikers, die gebruik van ’n hibriede stelsel en die moontlikhede van kernkrag en ander hernubare tegnologie is van die kwessies wat energiekundiges vandag by ’n energie-indaba in Kaapstad deurtrap het.

Van die kenners was dit eens dat steenkoolstasies nie oornag uitgeskakel kan word in die soeke na volhoubare oplossings nie. Wind- of sonkrag en die gebruik van gas kan aanvullend gebruik word om Suid-Afrika se probleme te help oplos, dit is egter nie die enigste nie. Daarbenewens is hernubare energie nie genoeg om vir die basislading te voorsien nie.

’n Elektrisiteitsmark moet geskep word wat kopers en verkopers bymekaar uitbring.

Chris Yelland, besturende direkteur van EE Besigheidsintelligensie, het gepraat oor innovasie en energie-oplossings op voetsoolvlak vir die opwekking, verspreiding en verbruik van energie. “Eskom moet doen wat hy moet doen en dit is om na die verbruiker om te sien. Ons moet doen wat ons kan om Eskom reg te ruk, maar privaat beleggings is nodig om kapasiteit te verhoog.”

Chris Yelland, besturende direkteur van EE Besigheidsintelligensie

Van die oplossings wat hy voorstel is dat Eskom en munisipaliteite se skuld aandag moet kry en dat die energiesektor meer mededingend moet wees. “Daar moet wegbeweeg word van ’n energiemonopolie en groot sentrale opwekking. Die verbruiker moet die grootste deel van die oplossing wees. ’n Elektrisiteitsmark moet geskep word wat kopers en verkopers bymekaar uitbring.”

Dr. Kelvin Kemm, voorsitter van Stratek Global, sê oplossings vir alternatiewe energietegnologie moet kernkragtegnologie insluit. “Vir die afsienbare toekoms gaan die primêre energiebronne steenkool en kernkrag wees. ’n Drastiese en chaotiese oorgang na hernubare hulpbronne kan ’n ramp vir die land voorspel. Dit kan die toekoms van armes in gedrang bring wat afhanklik van betroubare en bekostigbare elektrisiteit is.”

Dr. Kelvin Kemm, voorsitter van Stratek Global

Kemm wys daarop dat klein modulêre kerntegnologie nou as skoon energie bestempel word en ’n groter rol gaan speel in die veranderende energie-omgewing in die wêreld. Dit geld nie net in Suid-Afrika nie, maar ook ander Afrika-lande.

Hy het beklemtoon dat Suid-Afrika baie verder as Europa en Asië gevorder is in die ontwikkeling van klein modulêre reaktor-tegnologie en leiers op die gebied van kernkragtegnologie is.

Jacob Maroga, direkteur van Erinite Energy

Jacob Maroga, direkteur van Erinite Energy, het oor universele toegang tot elektrisiteit gepraat en sê die huidige formule werk nie. Hy meen Eskom moet bygestaan word om probleme met beurtkrag op te los. Daar moet egter gekyk word hoe “krag terug aan die mense” gegee kan word.

As krag nie bekostigbaar vir mense is nie, het demokrasie nie enige betekenis nie. Daar moet na goedkoper oplossings na huishoudings gebring word.

Percy van Staden, stigter van Vanadis, het ’n voorlegging gedoen oor sy projek met son-groenwaterstof-en-ammoniak as ’n geïntegreerde oplossing op plaaslike vlak. Dit is ’n 100%-persent groenoplossing wat ook moontlikhede vir landbou- en voedselproduksie bied, sê hy.

Percy van Staden, stigter van Vanadis

Danie Coetzee van die Noord-Kaapse Wetgewer, meen hervorming van die regulatoriese en wetgewende omgewing is nodig om die krisis te pak. Provinsiale regerings moet meer magte kry om hul eie energie na gelang van hul behoeftes te kan opwek.

Danie Coetzee van die Noord-Kaapse Wetgewer

Volgens Coetzee gaan die behoefte na elektrisiteit net groter word en daarom moet na alle beskikbare en bestaande opsies gekyk word soos steenkoolstasies, kernkrag, gas, hernubare bronne en batterye vir storing.

Elektrisiteitspryse is sodanig dat gebruikers na eie opwekking begin kyk. Dit gaan egter die finansiële druk op Eskom en munisipaliteite verhoog.

Coetzee wys daarop dat die konstruksietyd vir steenkool- en kernkragstasies tien jaar is wat beteken dit gaan nie betyds wees voordat daar nie meer krag is nie. Daarom moet na ander alternatiewe gekyk word.

Volgens hom is oplossings kleiner modulêre kernkrageenhede, die uitfasering van steenkool en die gebruik van gas in plaas van diesel vir piektydtekorte.

Daniel Ambros, hernubare-energiekundige, het verwys na hibriede energiemodelle wat reeds in Egipte, Eritrea, Botswana en Namibië gebruik word en waarna gekyk kan word.

Daniel Ambros, hernubare-energiekundige

Soortgelyke plasings