|

Kamieskroon-tak skenk boorgatpompe aan gemeenskap

AfriForum se Kamieskroon-tak het op 8 November twee boorgatpompe elk met ’n kontrolebord aan die Kamiesberg-munisipaliteit geskenk en geïnstalleer. Die munisipaliteit het hand bygesit en die plaaslike elektrisiën het al die bedrading gedoen. Die munisipaliteit het ’n span werkers verskaf om die tak met die werk en installering van die pompe by te staan.

Kamiesberg-munisipaliteit sukkel al jare om die droogtegeteisterde Kamieskroon- en Kroonsig-area van ongeveer 1 000 mense van drinkwater te voorsien. Dié munisipaliteit het sewe boorgate wat water aan die inwoners moet verskaf, maar wanbestuur van die munisipaliteit laat die gemeenskap sonder drinkwater.

AfriForum se Kamieskroon-tak het besluit om druk op die munisipaliteit te plaas. Dié munisipaliteit het ingestem en die projek is met krag van stapel gestuur.

Kamiesberg maak staat op water hetsy om te drink of as inkomste, veral in Augustus en September wanneer die area met blomme bedek is en toeriste lok. Dié jaar het Kamieskroon en Kroonsig erg gesukkel en inkomste verloor omdat daar geen water was nie.

“Die Kamieskroon-tak bedank die span sowel as die munisipaliteit. Dit is heerlik om deel te wees van die groot projek wat deur die gemeenskap, die Kamieskroon-tak en die munisipaliteit moontlik gemaak is. Ek was van die begin tot die einde by die projek betrokke en ’n mens kan nie die blydskap glo wat ’n mens ervaar wanneer die eerste stroom water deur die pype kom nie,” sê Werner Strauss, distrikskoördineerder vir die Kalahari.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om by die tak betrokke te raak om soortgelyke projekte moontlik te maak. SMS “Kamiesberg” na 45344 (R1) om aan te sluit.

Soortgelyke plasings