Witrivier-buurtwag op nasionale patrollie


Die Afriforum-buurtwag in Witrivier het op 11 Maart 2017 aan AfriForum se nasionale patrollie-veldtog deelgeneem. Die doel van dié patrollie was om sigbaarheid in die omgewing te verhoog, gemeenskappe bymekaar te bring en samewerking tussen alle veiligheidsrolspelers te verbeter.
Afriforum-buurtwaglede, verskeie sekuriteitsmaatskappye (Full Circle, High Tech, DT Guards en J&M), sowel as polisielede het by die Witrivier-polisiestasie bymekaargekom. ’n  Operasionele plan is onder leiding van lt. kol. Ngomane, bevelvoerder van dié polisiestasie, saamgestel en verskeie reëls in verband met die patrollie is bespreek.
Die patrollie het wel vrugte afgewerp: ’n Onwettige immigrant en ’n vermeende dief is gearresteer. Vier gevalle van onwettige dobbelary en twee gevalle van openbare dronkenskap is ook aangemeld.
Die patrollie-eenheid het gesamentlik uit vyf voertuie van die polisie en sekuriteitsmaatskappye, sewe buurtwagvoertuie en ongeveer 18 mans bestaan. Die patrolleerders het byna 500 km in 125 manuur afgelê.

“Ek glo dat die buurtwag ’n keerpunt in die geveg teen misdaad in Witrivier is. AfriForum-buurtwagte het ’n reputasie van goeie dissipline en goeie samewerking met die polisie, en die veiligheid van die Witrivier-gemeenskap is in goeie hande,” sê Johann Weber, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Oos.

Omdat dié veldtog so suksesvol was, gaan Afriforum-buurtwagte die patrollie ’n gereelde operasie maak.
Enigeen wat by die Witrivier-buurtwag betrokke wil raak, kan Piet Skead by 082 959 1588, Johan Pelser by 084 880 8291 of Dian Pretorius by 082 818 0769 skakel.

Soortgelyke plasings